Goties

Goties
𐌲𐌿𐍄𐌹𐍃𐌺 Gutisk
Gepraat in: Oium, Dakië, Pannonië, Italië, Gallië, Hispania, Krim 
Gebied: Sentraal-Europa
Totale sprekers: uitgesterf
Taalfamilie: Indo-Europees
 Germaans
  Oos-Germaans
   Goties 
Skrifstelsel: Latynse alfabet
Taalkodes
ISO 639-1: geen
ISO 639-2: got
ISO 639-3: got

Goties is die bekendste taal van die uitgestorwe Oos-Germaanse tak van Germaanse tale. Vroeër is Goties, as Oos-Germaanse taal, beskou as 'n vertakking van Noord-Germaans.[1] Goties se bekendheid is te danke aan die Bybelvertaling van Wulfila, die oudste bekende lang Germaanse teks, in die 4de eeu n.C. Goties is belangrik vir die herbou van Oergermaans. Dit het waarskynlik êrens op die Balkan ontstaan.

Bladsy van die Codex Ambrosianus B

Verreweg die belangrikste bron van die Gotiese taal is die Bybelvertaling van Wulfila. 'n Groot deel hiervan het verlore gegaan. Meer as die helfte van die vertaalde Evangelies het egter bewaar gebly in die Codex Argenteus asook die Briewe van Paulus en een deel van Nehemia. Nog 'n belangrike Gotiese dokument is die Skeireins, wat kommentaar oor die Evangelie volgens Johannes lewer. Die Bybel van Wulfila gebruik 'n eiesoortige alfabet, die Gotiese alfabet.

Bybelgoties het in die sterf 6de eeu n.C uitgesterf.[2] Krimgoties leef egter nog vir 'n tyd lank voort. Soos die ander Oos-Germaanse dialekte het ook Goties gou onder die Romeinse beskawing begin agteruitgaan. Dit wil voorkom of daar in die ou Moesië, waar Wulfila sy patriargale staat gestig het, nog tot in die 9de eeu gepreek is in Goties.

In die volkstale van Italië, Spanje en Portugal het daar flou spore van Goties agtergebly. Die Spaanse woord vir gans is ganso, wat waarskynlik afkomstig is van die Visigote, en die Roemeense gâscă het duidelike Germaanse ooreenkomste, in vergelyking met die Latynse 'ānser';[3] (maar wel ook met die Russiese Гуси gusi, Turkse kaz en Persiese غاز ghaz).

'n Oos-Gotiese kolonie het tot in die 16de eeu aan die Krim voortbestaan, selfs nadat hierdie gedeelte in 1475 deur die Turke onderwerp is. Krimgoties is in die 16de eeu in 'n woordelys opgeteken deur die Vlaamse diplomaat Ogier Ghislain de Busbecq.[4] In daardie tyd was daar tagtig woorde en 'n liedjie aangetref by die mense wat hierdie taal nog magtig was.[5] Dialekte het Visigoties (Wes-Goties) en Ostrogoties (Oos-Goties) ingesluit. Die Wes- en Oos-Gote was verwant aan die Vandale.

In 2016 vind Russiese ondersoekers 'n kort Gotiese teks op brokstukke uitgekrap afkomstig uit 'n Middeleeuse kerk wat iewers tussen 850 en 950 dateer. Die twee versreëls uit Psalm 77 versoek hulp en lees: "Heer help u dienaar" (in Goties Frauja hilp skalkis einis).[5]

Daar word aangevoer dat die Duitse godsdiensleenwoorde kerk, pinkster, doop en vas uit Goties stam. Dit het deur die Hoogduitse invloed in Nederlands-Afrikaans beland.[6]

  1. Raidt, E.H. 1976. Afrikaans en sy Europese verlede: Van Tacitus tot Van Wyk Louw. Elsiesrivier: Nasou Beperk, bl. 3: Op grond van taalkundige, etnografiese en argeologiese studies het dit duidelik geword dat Oos-Germaans (wat Goties insluit) eintlik 'n vertakking van Noord-Germaans is. Daarom is 'n indeling in Noord-Germaans en Suid-Germaans vir die tyd voor Christus korrekter.
  2. Odendal, F.F. s.j. Aspekte van taal. Elsiesrivier: Nasou Beperk, bl. 29: Die Goties van die Bybelvertaling van Wulfila het in die 6de eeu n.C. opgehou om te bestaan (die verwante Krimgoties is in die 16de eeu nog opgeteken, maar word nie meer gepraat nie).
  3. etymologiebank.nl gans (zwemvogel)
  4. H.J.J.M. van der Merwe. 1965. Goties: kommentaar en annotasies Pretoria: Unisa.
  5. 5,0 5,1 Van Maris, B. 2016. Late Gotische graffiti gevonden op de Krim; nrc.nl: 6 mei
  6. Ponelis, F.A. 1989. Nederlands-Afrikaans: die Europese agtergrond van Afrikaans. In: Botha, T.J.R. (red). Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Tweede, hersiene uitgawe. Kaapstad: Academica, bl. 50-51: Die woorde kerk, pinkster, doop en vas het uit Hoogduits in Nederlands-Afrikaans oorgegaan ... Hulle stam uit die sfeer van die Gotiese Christendom (die Arianisme). Teen 400 n.C. was daar betrekkinge tussen die Beiere in Suid-Duitsland en die ryk van die magtige Gotiese vors Theodorik die Grote verder oos van die Donou langs. Vanuit die Beierse kerksentrum Salzburg het die betrokke woorde toe uiteindelik in Nederlands-Afrikaans beland.Kerk en pinkster stam uit die Grieks kyrikón en pentekoste (vyftigste dag na pase) onderskeidelik. (Grieks was naamlik vir die Gote as godsdienstaal nog belangriker as Latyn.) Doop en vas is eg Germaanse woorde, maar leenvertalings (leenuitbreidings). Doop het oorspronklik beteken indoop, met ander woorde onderdompeling, en hou verband met diep. Hierdie woord staan dus duidelik uit die Goties-Ariaanse sfeer, waarbinne die grootdoop aangehang is. Vas, oorspronklik "in ag neem, vashou", is 'n leenvertaling van Latyn observare "in ag neem, vas".

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search