Griffith-sterrewag



Griffith-sterrewag

Griffith Park in Los Feliz, Los Angeles

Kalifornië
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State


Opening

14 Mei 1935


Boustyl

Art Deco


Argitekte

John C. Austin • Frederick M. Ashley


Webtuiste
GriffithObservatory.org

Danksy die sterrewag se openingstye (daagliks tot 10 uur saans[1]) kan besoekers asemberowende uitsigte oor die nagtelike middestad geniet

Die Griffith-sterrewag (Engels: Griffith Observatory) is 'n openbare sterrewag, geleë op 'n hoogte van 1 135 voet of 346 m bo seevlak teen die suidelike helling van die bergpiek Mount Hollywood in Griffith Park, Los Feliz, Los Angeles, Kalifornië. Dit is in besit van en word bestuur deur die Stad Los Angeles se Departement van Ontspanning en Parke.

Die sterrewag wat, naas sy uitstalling oor kosmiese en wetenskaplike onderwerpe, van die beste uitsigte oor die Los Angeles-bekken, insluitende die middestad in die suidooste, Hollywood in die suide (insluitende die Hollywood-kenteken) en die Stille Oseaan in die suidweste bied, is die mees besoekte openbare sterrewag ter wêreld met jaarliks sowat een miljoen besoekers. Meer mense het deur die sterrewag se historiese Zeiss-12 duim-refraksieteleskoop gekyk as deur enige ander teleskoop op aarde.[2] As een van Los Angeles se ikoniese strukture is die sterrewag verskeie kere as toneel vir meer as 300 televisieprogramme en rolprente gekies, so onder meer vir James Dean se laaste fliek Rebel Without a Cause in 1955 en die musiekblyspel La La Land in 2016.

Volgens die laaste wil van kolonel Griffith J. Griffith, die naamgewer en weldoener wat die bou van die sterrewag, 'n uitstallingsaal en planetarium met 'n skenking moontlik gemaak het, het belangstellendes vrye toegang sedert die sterrewag se opening op 14 Mei 1935.[3] Die omliggende grond van 3 015 akkers (12,2 vk km) is eweneens deur Griffith, 'n boorling van Wallis in die Verenigde Koninkryk, op 16 Desember 1896 aan die Stad Los Angeles geskenk. Griffith se doelwit was om sterrekunde toeganklik te maak vir die publiek – in teenstelling met die alternatiewe konsep van sterrewagte wat op afgeleë bergpieke opgerig word en uitsluitlik toeganklik is vir wetenskaplikes.[4]

'n Tweede belangrike skenking is deur Leonard Nimoy, bekend as Mr. Spock (een van die hoofkarakters in die wetenskapsfiksie-televisiereeks Star Trek), en sy vrou Susan gemaak. Die Nimoys was geesdriftige ondersteuners van die sterrewag en het $1 miljoen beskikbaar gestel vir omvattende herstelwerk wat in 2002 begin is.[5]

  1. Discover Los Angeles: Griffith Observatory. Besoek op 11 Mei 2018
  2. "www.griffithobservatory.org: About – Griffith Park. Besoek op 13 Mei 2018". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Mei 2018. Besoek op 13 Mei 2018.
  3. Behalwe vir die parkeerterrein: $4 per uur soos in Mei 2018
  4. Discover Los Angeles: The Griffith Observatory: The Story of an L.A. Icon. Besoek op 11 Mei 2018
  5. Steven Heller: Hollywood's Griffith Observatory at 80: Still a Gateway to the Stars. In: The Atlantic, 7 Mei 2015. Aanlyn beskikbaar: theatlantic.com

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search