Heilige Saterdag

Standbeeld van Jesus in die graf, deur Gregorio Fernández. Klooster San Joaquín en Santa Ana, Valladolid, Spanje
’n 16de-eeuse Russies-Ortodokse ikoon van die Wederopstanding
Die Heilige Graflegging van Christus
Benediktynse monnike besig om Vespers op Heilige Saterdag te sing

Heilige Saterdag is die laaste dag van Lydensweek (wat volgens liturgiese telling begin met Palmsondag as eerste dag van dié week), waarin Christene hulself vir Paasfees voorberei. In die Kopties-Ortodokse Kerk word dié dag ook Vreugdevolle Saterdag of Saterdag van Lig genoem. Liturgies gesien duur Heilige Saterdag slegs tot die aandskemer, waarna die Paaswake gevier word en vervolgens die eintlike Paasfees begin, omdat 'n dag volgens Joodse tradisie met sononder begin en die oorspronklike Paaswake tydens Pesach gehou is.

Heilige Saterdag is die Saterdag voor Paasfees en die dag ná Goeie Vrydag.[1] Dit is die tweede dag van die Paastriduüm (Triduum Sacrum of Triduum Paschale), die tydperk van passie, dood en opstanding van Jesus; hierdie tydperk sluit Wit-Donderdag en Goeie Vrydag in, en eindig op die aand van Paasfees.[2][3]

Christene herdenk op Heilige Saterdag Jesus se tyd in die graf en sy neerdaling na die hel, waar hy ná sy kruisiging "na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig" het (1 Petrus 3:19).[4] Soms word na die Heilige Saterdag as Paassaterdag verwys, hoewel dit nie met die kerklike tradisie ooreenstem nie: Paassaterdag is in die kerklike liturgie die Saterdag ná Paasfees en vervolgens dié dag voor Wit-Sondag, 'n week ná Paasfees.

  1. (en) Leonard Stuart (1909). New century reference library of the world's most important knowledge: complete, thorough, practical, Volume 3. Syndicate Pub. Co. Besoek op 9 April 2020.
  2. (en) Gail Ramshaw (2004). Three Day Feast: Maundy Thursday, Good Friday, and Easter. Augsburg Books. Besoek op 9 April 2020.
  3. (en) Peter C. Bower. The Companion to the Book of Common Worship. Geneva Press. Besoek op 9 April 2020.
  4. (af) "1 Petrus 3, 19". Bybel: 1 Petrus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 9 April 2020. En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search