Helios

Helios
Alexander die Grote as Helios. Romeinse kopie van die Griekse oorspronklike
Alexander die Grote as Helios. Romeinse kopie van die Griekse oorspronklike
Naam Helios
God van Die son
Blyplek Hemel
Gade Perse, Klumene
Ouers Huperion en Teia
Sibbes Selene en Eos
Kinders Die Grasieë, Faëton, Aietes, Kirke, Pasifaë
Romeinse eweknie Sol

Helios (Grieks: Ἥλιος; Homeriese Grieks: Ἠέλιος) was in die Griekse mitologie uit die tweede geslag Titane. Hy was die verpersoonliking van die son. Sy naam word gelatiniseer as Helius en hy word dikwels Huperion ("die een bo") en Faëton ("die skitterende een") genoem.

Helios was die seun van die Titane Huperion en Teia (Hesiodus) of Eurufaissa (Homeros) en die broer van die godinne Selene (Maan) en Eos (Daeraad). Die drie se name was ook die algemene Griekse name vir son, maan en daeraad.

Helios word dikwels in kuns uitgebeeld met 'n stralende kroon terwyl hy 'n strydwa deur die lug drywe wat deur perde getrek word. Hy was die beskermgod van ede en die god van sig. Hoewel Helios in klassieke Griekeland 'n redelik onbelangrike god was, het sy aanbidding toegeneem in die Laat Oudheid danksy sy identifikasie met verskeie groot songode van die Romeinse tydperk, veral Apollo en Sol. Die Romeinse keiser Julianus het Helios die sentrale god gemaak toe hy godsdiens in die 4de eeu n.C. vir 'n kort ruk laat herleef het.

Helios kom prominent voor in verskeie werke van Griekse mitologie, poësie en letterkunde. Sy merkwaardigste verhaal in die Griekse mitologie is dié van sy sterflike seun Faëton.[1]

In die Homeriese eposse is sy vernaamste rol die een wat hy vertolk in die Odussee, waar Odusseus se manne sy beeste eet ondanks waarskuwings. Toe hy daarvan hoor, het Helios vir Zeus gevra om dié te straf wat hom te na gekom het, en Zeus het hulle boot met 'n weerligstraal geslaan. Almal is dood, behalwe Odusseus, die enigste een wat nie die beeste geëet het nie.[2]

Vanweë Helios se posisie as die son is geglo hy is 'n alomteenwoordige getuie, en hy is dus in ede aangeroep. Hy het ook 'n aansienlike rol in antieke magie en towerspreuke gespeel. In kuns word hy gewoonlik uitgebeeld as 'n baardlose jongeling in 'n soort tuniek en met 'n sweep in die hand waar hy 'n wa met vier perde drywe. Hy is dikwels vergesel van ander gode, soos Selene en Eos, of die sterre.

Helios is op verskeie plekke aanbid, maar sy belangrikste kultus was op die eiland Rhodos, waarvan hy die beskermgod was. Die Kolos van Rhodos, 'n reusagtige standbeeld van die god, het die hawe van Rhodos versier totdat dit in 'n aardbewing verwoes is. Dit is daarna nie herbou nie.

  1. Maart, s.v. Helios
  2. Homeros, Odussee, XII.262, 348, 363.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search