Heliosfeer

Voyager 1 beweeg in die sonskede in. Voyager 1 en 2 is albei nou buite die heliopouse. Sien teks vir terme.
Skaal van die Sonnestelsel en Voyager 1 se posisie. Die skaal is in AE; elke gemerkte afstand ná 1 AE is 10 keer so ver as die vorige. Die ster Gliese 445 (AC +79 3888) heel regs is sowat 10 000 keer so ver van die Son as Voyager.

Die heliosfeer of sonsfeer is die magnetosfeer, astrosfeer en buitenste atmosfeerlaag van die Son. Dit het die vorm van 'n groot, borrelagtige streek van die ruimte. In terme van plasmafisika is dit die holte wat deur die Son gevorm word in die omringende interstellêre medium. Die "borrel" word aanhoudend "opgeblaas" deur plasma van die Son af, bekend as die sonwind. Buite die heliosfeer maak dié sonplasma plek vir die interstellêre plasma wat die Melkweg deurtrek.

As deel van die interplanetêre magneetveld beskerm die heliosfeer die Sonnestelsel van aansienlike hoeveelhede kosmiese geïoniseerde straling; elektries neutrale gammastrale word egter nie geraak nie.[1] Die term is waarskynlik uitgedink deur Alexander J. Dessler, wat glo die woord die eerste keer in 1967 in wetenskaplike geskrifte gebruik het.[2]

Die sonwind vloei miljarde kilometers ver deur die Sonnestelsel, tot ver anderkant selfs die Kuipergordel, waar Pluto is, totdat dit die grensskok teenkom, waar sy snelheid skielik afneem vanweë die druk van buite in die interstellêre medium. Die sonskede is 'n breë oorgangsgebied tussen die grensskok en die heliosfeer se buitegrens, die heliopouse. Die punt waar die interstellêre materie (wat in die teenoorgestelde rigting beweeg) tydens sy botsing met die sonsfeer vertraag word, staan bekend as die boegskok.

Die vorm van die heliosfeer lyk soos 'n komeet; dit is rofweg sferies aan die een kant met 'n lang stert aan die ander kant, bekend as die heliostert. Die wetenskaplike studie van die heliosfeer is heliofisika, wat ruimteweer en -klimaat insluit.

Twee Voyagerruimtetuie het die buitestreke van die heliosfeer verken en deur die grensskok en sonskede beweeg. Voyager 1 het op 25 Augustus 2012 die heliopouse verbygesteek en die heliosfeer verlaat, toe die tuig 'n skielike, veertigvoudige toename in plasmadigtheid gemeet het.[3]

Voyager 2 het op 5 November 2018 die heliopouse verbygesteek.[4] Omdat die heliopouse die grens is tussen materie van die Son afkomstig en dié wat in die res van die sterrestelsel ontstaan, is ruimtetuie wat die heliosfeer verbysteek (soos die twee Voyagers) in die interstellêre ruimte.

  1. Gale Martha (1 April 2013). "The Sun's Heliosphere".
  2. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named dessler-revgeophys
  3. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named voyager-historic
  4. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named v2-heliopause

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search