Hiades (sterreswerm)

Vir 'n artikel oor die susters in die Griekse mitologie, sien Hiade
Hiades

Sterrebeeld Bul
Regte klimming 4h 27m
Deklinasie +15º 52'
Afstand 153 ligjare (47 parsek)
Skynbare helderheid 0,5 mag
Geraamde ouderdom 625 miljoen jaar
Ander name Reëngesternte, Melotte 25, Collinder 50, Caldwell 41

Die Hiades of Reëngesternte (Grieks: Ὑάδες) is die naaste oop sterreswerm aan die sonnestelsel en een van die swerms wat die meeste bestudeer is. Die Hipparcos-satelliet, Hubble-ruimteteleskoop en Hertzsprung-Russell-diagram is gebruik om die afstand van ~153 ligjare (47 parsek) van die kern te bepaal.[1][2] Aangesien die resultate van al drie metodes ooreenstem, is die Hiades ’n belangrike skakel in die kosmiese afstandskaal. Die swerm bestaan uit ’n rofweg sferiese groep van honderde sterre met dieselfde ouderdom, plek van oorsprong, chemiese inhoud en beweging deur die ruimte.[1][3]

Vanaf die Aarde gesien, val die Hiades binne die sterrebeeld Bul, waar die helderste sterre daarvan ’n "V" vorm saam met die nog helderder rooi reus Aldebaran. Laasgenoemde is egter heeltemal onverwant aan die Hiades; dit is baie nader aan die Aarde (vandaar sy oënskynlike helderheid) en lê toevallig in dieselfde gesigslyn.

Die Hiades is sowat 625 miljoen jaar oud.[1] Die kern, waar die sterre dig saamgepak is, het ’n radius van 17,6 ligjare (2,7 parsek). Baie van die sterre kom egter ver buite die kern voor, in die swerm se uitgebreide halo; dié sterre is waarskynlik besig om te ontsnap van die swerm se swaartekrag-invloed.[1]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Perryman, M.A.C. (1998). "The Hyades: distance, structure, dynamics, and age". Astronomy & Astrophysics. 331: 81–120. arXiv:astro-ph/9707253. Bibcode:1998A&A...331...81P.
  2. Majaess, D.; Turner, D.; Lane, D.; Krajci, T. "Deep Infrared ZAMS Fits to Benchmark Open Clusters Hosting delta Scuti Stars", JAAVSO, 2011
  3. Bouvier J., Kendall T., Meeus G., Testi L., Moraux E., Stauffer J.R., James D., Cuillandre J.-C., Irwin J., McCaughrean M.J., Baraffe I., Bertin E. (2008) Brown dwarfs and very low mass stars in the Hyades cluster: a dynamically evolved mass function. Astronomy & Astrophysics, 481: 661-672. Opsomming by http://adsabs.harvard.edu/abs/2008A%26A...481..661B.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search