Hillswolk

’n 3D-diagram van die Oort- en Hillswolk in vergelyking met die res van die Sonnestelsel.

Die Hillswolk (ook die binneste Oortwolk genoem) is ’n groot teoretiese skyf aan die binnekant van die Oortwolk. Die verste grens sal sowat 20 000 tot 30 000 AE van die Son af wees en sy naaste grens tussen rofweg 250 en 1 500 AE, ver anderkant die planete en Kuipergordelvoorwerpe. Afstande kan egter veel groter wees.

As dit bestaan, bevat die Hillswolk rofweg vyf keer soveel komete as die Oortwolk.[1] Oortwolkkomete word voortdurend deur hulle omgewing versteur. ’n Taamlike deel verlaat die Sonnestelsel of beweeg na die binneste Sonnestelsel. Dié voorraad komete moes dus al lank gelede uitgeput gewees het, maar dit is nie.

Die Hillswolkteorie verduidelik die duursaamheid van die Oortwolk, want daarvolgens word laasgenoemde wolk deur die Hillswolk aangevul. Voorwerpe wat uit die Hillswolk geskiet word, beland waarskynlik eindelik in die klassieke Oortwolkstreek en bevolk dit op dié manier.[2] Die Hillswolk het moontlik die grootste konsentrasie komete in die hele Sonnestelsel.

Die bestaan van die Hillswolk is geloofwaardig, want baie sulke voorwerpe is al ontdek. Dit kan digter as die Oortwolk wees.[3][4] Swaartekragwisselwerkings met die naaste sterre en getykragte in die Melkweg het veroorsaak dat die voorwerpe in die Oortwolk ronde wentelbane het. Dit is dalk nie die geval met die Hillswolk nie. Die Hillswolk se totale massa is onbekend, maar sommige wetenskaplikes meen dit kan groter as dié van die Oortwolk wees.

  1. Duncan, M.; Quinn, T.; Tremaine, S. (1987). "The Formation and Extent of the Solar System Comet Cloud". The Astronomical Journal. 94: 1330. Bibcode:1987AJ.....94.1330D. doi:10.1086/114571.
  2. J. A. Fernandez (1997). "The Formation of the Oort cloud and the Primitive Galactic Environment". Icarus. Vol. 129, no. 1. pp. 106–119. Bibcode:1997Icar..129..106F. doi:10.1006/icar.1997.5754.
  3. Jack G. Hills (1981). "Comet showers and the steady-state infall of comets from the Oort Cloud". Astronomical Journal. 86: 1730–1740. Bibcode:1981AJ.....86.1730H. doi:10.1086/113058.
  4. "Planetary Sciences: American and Soviet Research, Proceedings from the U.S.-U.S.S.R. Workshop on Planetary Sciences, p. 251". 1991. Besoek op 7 November 2007.[dooie skakel]

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search