Immunologie

In die immunologie word 'n studie gemaak van die verdedigingsmeganisme wat werweldiere in staat stel om hulle te beskerm teen die skadelike uitwerking van siekteveroorsakende mikroörganismes soos virusse en bakterieë asook kankerselle. Hierdie verdedigingsmeganisme, wat die immuunsisteem genoem word, berus daarop dat vreemde organismes of verbindings deur die liggaam uitgeken en selektief uitgeskakel word.

Daar is twee verskillende maniere waarop die immuunsisteem werk. In een geval, die sogenaamde humorale immuniteit, gee die aanraking met die vreemde organisme of verbinding aanleiding tot die produksie en vrystelling van teenliggame. Dit is hierdie teenliggame wat by 'n latere aanraking die vreemde organisme of verbinding (antigeen) sal herken en daaraan bind sodat dit uitgeskakel of geneutraliseer kan word. Die tweede tipe immuniteit staan bekend as sellulêre immuniteit. Dit berus op die deelname van spesiale witbloedselle wat deur die aanraking met 'n antigeen geaktiveer word om die antigeen by ʼn volgende ontmoeting te herken en onskadelik te stel.

Watter van die twee immuunsisteme in werking kom, hang baie af van die antigeen. Die immunologie het reeds ʼn belangrike bydrae gelewer op die gebied van die moderne geneeskunde wat betref aspekte soos bloedoortappings, inenting, orgaanoorplantings, die behandeling van allergieë, outoïmmuunsiektes en kanker. Ook in die studie van selle en veral seldifferensiasie is die studie van teenliggaamproduksie en die faktore wat daarin 'n rol speel, van groot belang.

Die beginsel van inenting berus op die liggaam se vermoë om weerstand te bied teen infeksies en siektes. Dit word die immuunrespons genoem.

Die hoofelemente van kliniese immunologie, naamlik allergieë, outo-immuniteit en oorplantingsimmuniteit, is binne 'n tydperk van twintig jaar ontdek, danksy nuwe kennis en vooruitgang op die gebied van selbiologie in die twintigste eeu. Dit het gelei tot die ontwikkeling van doeltreffende entstowwe teen voorheen verwoestende siektes soos polio.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search