Inland Empire

Riverside, die naamgewer vir die omliggende administratiewe distrik, is een van die snelste groeiende nedersettings in Kalifornië. Grootskaalse verstedeliking het van Riverside feitlik 'n voorstad van Los Angeles gemaak
Die yl bevolkte dele van die Inland Empire word deur berggebiede en woestyne oorheers. Die Dos Palmas-bewaringsgebied beskerm 'n oase met palme en vleiland wat temidde van die Salt Creek-gebied van die Colorado-woestyn geleë is

Die Inland Empire (kort IE) is 'n metropolitaanse gebied en geografiese streek in Suid-Kalifornië, geleë oos en suidoos van Los Angeles. Die term word onder meer gebruik om na stedelike nedersettings in die weste van die administratiewe distrik Riverside County en die suidweste van Bernardino County te verwys. In 'n wyer betekenis word ook nedersettings in die Pomona-vallei in die ooste van Los Angeles County hierby ingesluit, soms ook nedersettings in die woestynagtige Coachella-vallei, waaronder Palm Springs. In sy wydste betekenis verwys die term na die twee distrikte San Bernardino en Riverside County in hul geheel.

Die Verenigde State se Sensusburo definieer die metropolitaanse gebied van Riverside-San Bernardino-Ontario as 'n statistieke streek met 'n oppervlakte van 27 000 vk myl (70 000 vk km) en 'n bevolking van meer as vier miljoen. Die grootste deel van die bevolking is in die suidweste van San Bernardino County en die noordweste van Riverside County saamgetrek.

Die Inland Empire was nog in die laat 19de eeu 'n belangrike landboustreek wat sitrusvrugte, suiwelprodukte en wyn geproduseer het. Gedurende die 20ste eeu het landbouaktiwiteite geleidelik afgeneem as gevolg van groeiende bevolkingsgetalle en die gepaardgaande uitbreiding van woon- en nywerheidsgebiede, 'n proses wat vanaf die 1970's nog versterk is nadat steeds meer gesinne hulle op soek na bekostigbare behuising in die streek gevestig het. Sy bevolkingsgroei was in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu die hoogste van Kalifornië se belangrikste streke, veral danksy grootskaalse immigrasie uit Latyns-Amerika.[1]

  1. Abraham F. Lowenthal: Global California: Rising to the Cosmopolitan Challenge. Stanford: Stanford University Press 2009, bl. 73

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search