Johanna van Arkel Frans: Jeanne d'Arc' | |
---|---|
Skildery uit c. 1900 ?[1] Die enigste bekende portret van haar het nie behoue gebly nie, alle afbeeldings van haar verteenwoordig dus die kunstenaar se voorstelling. | |
Heilige | |
Gebore | c. 1412, Domrémy, Frankryk |
Sterfte | 30 Mei 1431, Rouen, Frankryk |
Vereer in | Rooms-Katolieke Kerk |
Saligverklaring | 18 April 1909, Notre-Dame-katedraal deur Pius X |
Heiligverklaring | 16 Mei 1920, Sint Pieterskerk deur Benedictus XV |
Feesdag | 30 Mei |
Beskermheilige | Frankryk; martelaars; aangehoudenes; gevangenes; militantes; mense wat gespot word oor hulle vroomheid; verkragtingslagoffers; soldate; Vroue aangestel vir Vrywillige Nooddiens; die Women's Army Corps van die VSA |
Johanna van Arkel (Frans: Jeanne d'Arc, [ʒanˈdaʁk]),[2] (c. 1412 – 30 Mei 1431)[3] was 'n 15de-eeuse volksheldin van Frankryk. Sy is van kettery aangekla en tereggestel toe sy slegs 19 jaar oud was. Die veroordeling is 24 jaar later deur die pous herroep en sy is onskuldig bevind en tot martelaar verklaar. Sy is in 1909 salig verklaar en in 1920 tot heilige verklaar.[3]
Johanna het beweer dat sy visioene van God gehad het waarin sy aangesê is om haar land van Engelse oorheersing te bevry laat in die Honderdjarige Oorlog. Die ongekroonde Koning Karel VII het haar ná die beleg by Orléans (wat van 1428 tot 1429 geduur het) gestuur as deel van 'n sending om die stad te bevry. Sy het bekendheid verwerf toe sy die minagtende houding van die ervare bevelvoerders oorkom het en die beleg in slegs nege dae opgehef het. Verskeie ander snelle oorwinnings het gelei tot Karel VII se kroning by Reims, wat die dispuut om die troonopvolging besleg het.
Die hernude Franse selfvertroue het Johanna se eie vlugtige loopbaan oorleef. Sy het geweier om die slagveld te verlaat toe sy gewond is tydens 'n poging om Parys in die herfs van 1429 terug te neem. Sy is gekniehalter deur hof-intriges en het van toe af slegs kleiner kompanies gelei; sy is gevange geneem in 'n skermutseling naby Compiègne die volgende lente (in 1430). 'n Polities gemotiveerde verhoor het haar aan kettery skuldig bevind. Die Engelse regent, Jan van Lancaster, 1ste Hertog van Bedford, het haar in Rouen op die brandstapel laat verbrand. Sy was 'n heldin van haar land vandat sy 17 jaar oud was en het gesterf toe sy slegs 19 jaar oud was. Sowat 24 jaar later het Pous Callixtus III die saak heropen en in 'n nuwe bevinding die oorspronklike veroordeling omgekeer op 7 Julie 1456. Haar vroomheid tot aan die einde het die hof tydens haar herverhoring beïndruk. Pous Benedictus XV het haar op 16 Mei 1920 heilig verklaar.[4]
Sy het 'n belangrike figuur in Westerse kultuur en die res van die wêreld geword. Van Napoleon tot vandag het Franse politici van alle oortuigings haar nagedagtenis opgeroep. Belangrike skrywers en komponiste wat werke oor haar geskep het sluit Shakespeare, Voltaire, Schiller, Verdi, Tsjaikowski, Twain, Shaw, Brecht, Anderson, Honegger, Cohen en Anouilh in. Afbeeldings van haar duur voort in rolprente, televisie, sang en selfs videospeletjies.
© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search