Leonardo da Vinci

Leonardo da Vinci
Geboortenaam Leonardo di ser Piero da Vinci
Gebore (1452-04-15)15 April 1452
Vinci, Vlag van Italië Italië
Sterf 2 Mei 1519 (op 67)
Amboise, Frankryk
Nasionaliteit Italiaans
Veld Verskillende velde van die kunste en wetenskappe
Beweging Hoog-Renaissance
Werke Mona Lisa
Die Laaste Avondmaal
Vitruviaanse Man
Dame met 'n hermelyn

Leonardo di ser Piero da Vinci[1] (15 April 14522 Mei 1519) was 'n Italiaanse veelweter: 'n wetenskaplike, wiskundige, ingenieur, ontleedkundige, uitvinder, skilder, beeldhouer, argitek, tuinkundige, musikant en skrywer. Hy is gebore in Vinci, 'n dorp in Florence, as die buite-egtelike seun van 'n notaris, Piero da Vinci, en 'n plattelandse meisie, Caterina. Hy het opleiding ontvang in die ateljee van die bekende Florentynse skilder Verrocchio. 'n Groot gedeelte van sy vroeë werkende lewe was in die diens van Ludovico il Moro, in Milaan, waar verskeie van sy belangrikste werke geskep is. Hy het ook in Rome, Bologna en Venesië gewerk, maar het sy laaste jare in Frankryk deurgebring, in die tuiste wat deur koning Frans I aan hom gegee is.

Leonardo is dikwels beskryf as die argetipiese "Renaissance-man" of universele genie: 'n man wie se skynbare eindelose verbeelding slegs deur sy uitvindingsvermoë geëwenaar is.[2] Hy word wyd beskou as een van die beste skilders van alle tye en moontlik die mees divers begaafde persoon wat ooit geleef het.[3]

Leonardo was, en is, hoofsaaklik beroemd vanweë sy skilderwerk. Twee van sy werke, die Mona Lisa en Die Laaste Avondmaal, het reeds albei die unieke eer te beurt geval om die bekendste, mees geïllustreerde en mees nageskilderde portret en religieuse skildery van alle tye genoem te word. Slegs Michelangelo se Skepping van Adam is naastenby so bekend.[2] Leonardo se tekening van die Vitruviaanse Man is ook 'n ikoniese beeld. Daar is moontlik 15 skilderye wat behoue gebly het: die klein getal is te wyte aan Leonardo se konstante (en dikwels rampspoedige) eksperimentering met nuwe tegnieke en sy chroniese getalm.[4] Nietemin word hierdie klein aantal werke, saam met sy notaboeke, wat tekeninge en wetenskaplike diagramme bevat, en sy idees oor die aard van skilder beskou as 'n bydrae aan skilders van latere geslagte waarmee slegs dié van sy tydgenoot Michelangelo kan meeding.

As 'n ingenieur was baie van Leonardo se idees sy eie tyd vooruit: in konsep het Leonardo 'n helikopter, 'n tenk, die gebruik van gekonsentreerde sonenergie, 'n sakrekenaar, 'n kru teorie oor plaat-tektonika en baie ander konsepte uitgevind. Relatief min van sy eie ontwerpe was ooit gebou of enigsins uitvoerbaar tydens sy eie leeftyd.[5] maar sommige van sy kleiner uitvindings, soos 'n outomatiese spoelopwenner en 'n masjien wat die trekvastheid van draad toets, het die vervaardigingswêreld onbesonge betree.[6] As 'n wetenskaplike het hy die stand van kennis in die gebiede van ontleedkunde, siviele ingenieurswese, optika en waterloopkunde besonders bevorder.

  1. om te hoor hoe Leonardo se naam in Italiaans uitgespreek word.
  2. 2,0 2,1 Helen Gardner, Art through the Ages, (1970) Harcourt, Brace and World
  3. Vasari, Boltraffio, Castiglione, "Anonimo" Gaddiano, Berensen, Taine, Fuseli, Rio, Bortolon, ens. Sien ook spesifieke aanhalings in die afdeling, "Leonardo, die legende".
  4. Daar is 15 kunswerke wat deur kunsgeskiedkundiges aan Leonardo toegeskryf word. Hierdie getal bestaan hoofsaaklik uit paneelskilderye, maar sluit ook in 'n muurskildery, 'n groot tekening op papier en twee ander werke wat nog in die vroeë fases van voorbereiding is. Afgesien van hierdie werke is daar ook 'n aantal ander werke wat verskeidelik aan hom toegeken word.
  5. Moderne wetenskaplike benaderings tot metallurgie en ingenieurswese was nog in wording tydens die Renaissance,
  6. 'n Aantal van Leonardo se praktieste uitvindings kan as werkende modelle by die Museo Ideale Leonardo da Vinci in Vinci besigtig word.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search