Deelstaat Louisiana State of Louisiana État de Louisiane | |||||
| |||||
Bynaam(e): Pelican State | |||||
![]() | |||||
Amptelike taal(e) | Geen; Engels en Frans de facto | ||||
Gesproke taal(e) | Engels 91,2%, Frans 4,8% | ||||
Hoofstad | Baton Rouge | ||||
Grootste stad | New Orleans | ||||
Area | 31ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 135 000 km2 | ||||
- Wydte | 231 km | ||||
- Lengte | 610 km | ||||
- Water | 23 102 km2 | ||||
- % water | 15 % | ||||
- Breedtegraad | 29°N tot 33°N | ||||
- Lengtegraad | 89°W tot 94°W | ||||
Bevolking | 25ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 4 649 676 (2014-skatting) | ||||
- Digtheid | 41,2/km2 26ste in die V.S. | ||||
Hoogte | |||||
- Hoogste punt | Driskillberg, Bienville Parish 163 m | ||||
- Gemiddeld | 30 m | ||||
- Laagste punt | New Orleans –2,5 m | ||||
Toetrede tot die Unie | 30 April 1812 (18de) | ||||
Goewerneur | Jeff Landry (R) | ||||
Luitenant-Goewerneur | Billy Nungesser (R) | ||||
Wetgewer | Louisiana Wetgewer | ||||
- Hoërhuis | Senaat | ||||
- Laerhuis | Huis van Verteenwoordigers | ||||
V.S. Senatore | Bill Cassidy (R) John Kennedy (R) | ||||
Tydsone | Sentrale Standaardtyd: UTC -6 / Somertyd -5 | ||||
Afkortings | LA US-LA | ||||
Webblad | www.louisiana.gov |
Louisiana (Engels: [luˌiːziˈænə], of [ˌluːziˈænə], ; Frans: Louisiane, [lwizjan], ; Spaans: Luisiana, [lwiˈsjana]; Louisiaanse kreools: Lwizyàn), amptelik die Deelstaat Louisiana (Engels: State of Louisiana; Frans: État de la Louisiane; Spaans: Estado de Luisiana; Louisiaanse kreools: Létat de Lalwizyàn), is 'n deelstaat in die suide van die Verenigde State. Louisiana word in die noorde deur die deelstaat Arkansas, in die weste deur die deelstaat Texas, in die ooste deur die deelstaat Mississippi en in die suide deur die Golf van Meksiko begrens. Die staat lê in die subtropiese klimaatsone met baie warm, lang somers en gematigde winters. Die gebied word dikwels deur verwoestende orkane getref.
Louisiana was lank voor die koms van die eerste Europeërs die tuiste van stamme van die Eerste Nasies, en 'n aantal plekname verwys na die Indiaanse oorsprong van die deelstaat.
Die eerste Europese ontdekkers was 'n Spaanse ekspedisie onder die leiding van Panfilo de Narvaez, wat in 1528 die monding van die Mississippirivier verken het. Sowat dertien jaar later het die ekspedisie van Hernando de Soto die gebied deurkruis. Die Spaanse owerhede het min belang in die gebied gestel, en dit was Franse ontdekkers wat die streek vervolgens verken het. René Robert Cavelier de La Salle het die gebied in 1682 ter ere van koning Lodewyk XIV van Frankryk Louisiana genoem. Die eerste Franse nedersetting is in 1699 deur Pierre Le Moyne d'Iberville gestig. Die Franse kolonie Louisiana het aanvanklik aanspraak gemaak op 'n groot gebied langs die oewers van die Mississippi wat tot by Kanada in die noorde gestrek het. Die nedersettings wat so ontstaan het, was meestal langs die oewers van die Mississippi en sy takriviere geleë, terwyl 'n aantal handelsposte en sendingstasies ook in die gebied van die huidige Illinois en in die omgewing van St. Louis (Missouri) gestig is. Mobile in Alabama en Biloxi in Mississippi het aanvanklik as hoofstede van die kolonie gedien, tog is die setel van die regering in 1722 na New Orleans verskuif.
In die oorloë teen die Britte en Indiane het Frankryk die grootste gedeelte van sy gebiede oos van die Mississippi verloor, met die uitsondering van die omgewing van New Orleans en die parogieë rondom die Pontchartrainmeer. Die res van Louisiana het volgens die Verdrag van Fontainebleau in 1762 'n Spaanse kolonie geword. Onder Spaanse heerskappy het 'n paar duisend Franstalige vlugtelinge, wat deur die Britse bewindhebbers uit Akadië verdryf is, Louisiana hulle nuwe tuiste gemaak. Die Akadiërs het hulle veral in die gebied van die suidwestelike bayous gevestig en later as die Cajuns bekend gestaan.
Napoleon Bonaparte het in 1800, met die Verdrag van San Ildefonso, Louisiana van Spanje terug gekoop, alhoewel die transaksie twee jaar lank geheim gehou is. Die hawe van New Orleans het steeds 'n groot rol in die politieke betrekkinge tussen die Verenigde State en Frankryk gespeel. Die Amerikaanse setlaars in die noordwestelike streke het hulle landbouprodukte, veral tabak, via die Mississippirivier uitgevoer en was dus aangewese op hierdie hawe. Die Franse het sulke toegang egter geweier. In die kort tydperk van die Spaanse heerskappy in Louisiana is 'n ooreenkoms tussen die VSA en die Spaanse koloniale owerhede gesluit, waarvolgens die gebruik van die hawe vir Amerikaanse uitvoere gewaarborg is. Die skielike opsegging van hierdie ooreenkoms en gerugte dat die gebied al heimlik aan Frankryk teruggegee is, het onrus in die Verenigde State veroorsaak. President Thomas Jefferson het 'n afvaardiging na Parys gestuur, wat onderhandelinge met die Franse minister van Buitelandse Sake, Talleyrand, begin het. Aangesien keiser Napoleon destyds fondse vir sy Europese ondernemings benodig het, het hy uiteindelik ingewillig om die hele Louisiana teen 'n prys van VSA-$ 15 miljoen aan die Amerikaners te verkoop.
Die Amerikaanse owerhede het die kolonie Louisiana in twee gebiede verdeel: Die Orleans-gebied, wat in 1812 die deelstaat Louisiana gevorm het, en die distrik van Louisiana met alle geweste buite die Orleans-gebied. Die Florida-parogieë is deur 'n proklamasie van president James Madison in die jaar 1810 van die Spaanse Wes-Florida geannekseer. Die westelike grenslyn tussen Louisiana en die Spaanse Texas het tot met die Adams-Onís-verdrag van 1819 omstrede gebly. Die vrystaat Sabine het tussentyds as 'n buffersone en toevlugsoord vir misdadigers gedien.
As 'n oorblyfsel van sy verlede as Franse besitting handhaaf die deelstaat Louisiana nog steeds 'n burgerlike wetboek, wat op die Code Civil van Louisiana baseer en min of meer met Frankryk se wetboek, die Code Napoléon, vergelyk kan word. Anders as die ander deelstate is Louisiana nie in counties onderverdeel nie, maar in parogieë, soos uit die Franse tydperk oorgeërf. In 1849 is die setel van die staatsregering van New Orleans na Baton Rouge verskuif. Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog het Louisiana op 26 Januarie 1861 van die Unie afgeskei. Federale troepe het die stad New Orleans op 25 April 1862 verower. Louisiana is danksy die erfenis van die Franse koloniale tydperk uniek onder die Amerikaanse deelstate. Terwyl daar geen amptelike taal is nie, erken sy regstelsel sowel Engels as Frans. Engels is vandag die omgangstaal van die oorgrote meerderheid van die bevolking. Tog word oorblyfsels van die Franse taal in die plaaslike dialekte en talle plekname bewaar en praat ongeveer 215 000 inwoners Frans as moedertaal. Die getal deelstaatbewoners van Franse of Frans-Kanadese afkoms is in die sensus van 2000 as 524 258 bepaal.
© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search