Menslike evolusie

Hominini-tydlyn
(miljoen jaar gelede)

The image above contains clickable links
0,2 m. j. gelede
H.sapiens
0,6 m. j. gelede
H.heidel-
bergensis
4 m. j. gelede
Australo-
pithecus

Menslike evolusie is die evolusieproses wat gelei het tot die ontstaan van die moderne mens. Hoewel dit begin by die laaste gemeenskaplike voorsaat van alle lewe, dek die onderwerp gewoonlik net die evolusiegeskiedenis van primate, veral die genus Homo, en die ontstaan van Homo sapiens as ’n aparte spesie van hominiede (of "groot ape"). Die studie van menslike evolusie betrek baie wetenskaplike vakrigtings, onder meer fisiese antropologie, primatologie, argeologie, etologie, linguistiek, evolusionêre sielkunde, embriologie en genetika.[1]

Genetikastudies wys primate het sowat 85 miljoen jaar gelede tydens die Laat Krytperiode van ander soogdiere geskei. Die vroegste fossiele kom uit die Paleoseen, sowat 55 miljoen jaar gelede.[2] Die familie Hominidae het 15 tot 20 miljoen jaar gelede van die Hylobatidae-familie (langarmape) geskei, en die Ponginae (orang-oetangs) het sowat 14 miljoen jaar gelede van die Hominidae-familie geskei.[3] Tweevoetigheid het in die Hominini-stamboom begin; die eerste hominien wat op twee voete geloop het, was óf Sahelanthropus óf Orrorin, terwyl Ardipithecus, wat ten volle op twee voete geloop het, effens later ontwikkel het. Die gorilla en sjimpansee het omtrent in dié tyd geskei (sowat 4 tot 6 miljoen jaar gelede), en óf Sahelanthropus óf Orrorin is dalk hulle en die mens se laaste gemeenskaplike voorsaat. Die vroeë tweevoetiges het eindelik in Australopithecus ontwikkel en later in Homo.

’n Skematiese voorstelling van die menslike evolusie.

Die vroegste aangetekende lede van Homo is H. habilis, wat sowat 2,3 miljoen jaar gelede ontwikkel het en van wie daar positiewe bewyse is dat hulle steengereedskap gebruik het. Die brein van hierdie vroeë hominiene was omtrent so groot soos sjimpansees s'n, hoewel daar al voorgestel is dat die menslike SRGAP2-geen in dié tyd verdubbel het, en dit het ’n vinniger bedrading van die frontale korteks tot gevolg gehad. Tydens die volgende miljoen jaar het ’n proses begin waardeur die brein groter geraak het in verhouding met die algehele liggaamsmassa, en met die verskyning van H. erectus in die fossielrekord, het die breingrootte verdubbel tot 850 cm3.[4] Hierdie vergroting van die brein is eweredig aan ’n toename van 125 000 neurone van geslag tot geslag.

H. erectus en H. ergaster was die eerste van die hominiene wat Afrika verlaat het, en hulle het tussen 1,3 en 1,8 miljoen jaar gelede deur Afrika, Asië en Europa versprei. Daar word geglo dié spesies het die eerste keer vuur gemaak en ingewikkelde gereedskap gebruik.

Archaïese H. sapiens, die voorganger van die anatomies moderne mens, het tussen 400 000 en 250 000 jaar gelede ontstaan.[5][6] Volgens die onlangse teorie van Afrika as die oorsprong van alle mense, het die moderne mens in Afrika ontstaan, moontlik uit H. heidelbergensis, H. rhodesiensis of H. antecessor, en 50 000 tot 100 000 jaar gelede die kontinent verlaat. In Eurasië het hulle die plaaslike bevolkings van H. erectus, H. denisova, H. floresiensis en H. neanderthalensis vervang.[7][8][9][10][11] Onlangse DNS-studies toon Neanderdaller-gene kom in feitlik alle nie-Afrikane voor, en dat hulle en ander hominiede, soos H. denisova, dalk tot 6% van hul genoom bygedra het tot hedendaagse mense – dit dui op ’n mate van verbastering tussen dié spesies.[12][13][14]

Anatomies moderne mense het uit Archaïese H. sapiens ontwikkel tydens die Middel-Steentydperk, sowat 200 000 jaar gelede.[15] Die oorgang na gedragtelike moderniteit met die ontwikkeling van simboliese kultuur, taal en gespesialiseerde steentegnologie het volgens baie antropoloë sowat 50 000 jaar gelede ontstaan,[16] hoewel sommige meen dit het geleidelik oor ’n langer periode gebeur.[17]

  1. Heng HH (Mei 2009). "The genome-centric concept: resynthesis of evolutionary theory". BioEssays. 31 (5): 512–25. doi:10.1002/bies.200800182. PMID 19334004.
  2. "Nova – Meet Your Ancestors". PBS. Besoek op 2008–10–24.
  3. Dawkins R (2004) The Ancestor's Tale. ^ "Query: Hominidae/Hylobatidae". Time Tree. 2009. Besoek in Desember 2013.
  4. Java Man, Curtis, Swisher and Lewin, ISBN 0-349-11473-0
  5. "Evolution's past is modern human's present". National Science Foundation. 6 September 2011. Besoek op 7 September 2012.
  6. O'Neil, Dennis. "Evolution's past is modern human's present". Behavioral Sciences Department, Palomar College, San Marcos, California. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2015. Besoek op 7 September 2012.
  7. Stringer, C.B. (1994). "Evolution of Early Humans". In Jones, Steve; Martin, Robert; Pilbeam, David (reds.). The Cambridge Encyclopedia of Human Evolution. Cambridge: Cambridge University Press. p. 242. ISBN 978-0-521-32370-3. Ook ISBN 978-0-521-46786-5 (sagteband)
  8. McHenry, H. M (2009). "Human Evolution". In Ruse, Michael; Travis, Joseph (reds.). Evolution: the first four billion years. Cambridge, Massachusetts: The Belknap Press of Harvard University Press. p. 265. ISBN 978-0-674-03175-3.
  9. g "Out of Africa Revisited". Science. 308 (5724): 921 g. 13 Mei 2005. doi:10.1126/science.308.5724.921g. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 November 2010. Besoek op 17 Augustus 2021. {{cite journal}}: Check |url= value (hulp)
  10. Nature (12 Junie 2003). "Access: Human evolution: Out of Ethiopia" (in Engels). Nature. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Oktober 2011. Besoek op 23 November 2009.
  11. "Origins of modern humans: multiregional or out of Africa?" (in Portugees). ActionBioscience. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 September 2019. Besoek op 23 November 2009.
  12. Reich D, Green RE, Kircher M, et al. (Desember 2010). "Genetic history of an archaic hominin group from Denisova Cave in Siberia". Nature. 468 (7327): 1053–60. Bibcode:2010Natur.468.1053R. doi:10.1038/nature09710. PMID 21179161.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  13. Noonan J. P (Mei 2010). "Neanderthal genomics and the evolution of modern humans". Genome Res. 20 (5): 547–53. doi:10.1101/gr.076000.108. PMC 2860157. PMID 20439435.
  14. Abi-Rached, L; Jobin, M. J.; Kulkarni, S.; McWhinnie, A.; Dalva, K.; Gragert, L.; Babrzadeh, F.; Gharizadeh, B.; Luo, M. (2011-08-25). "The shaping of modern human immune systems by multiregional admixture with archaic humans". Science. 334 (6052): 89–94. Bibcode:2011Sci...334...89A. doi:10.1126/science.1209202. PMC 3677943. PMID 21868630. {{cite journal}}: |archive-date= requires |archive-url= (hulp); |archive-url= requires |url= (hulp); Gaan datum na in: |archivedate= (hulp)
  15. "Fossil reanalysis pushes back origin of Homo sapiens". Scientific American. 17 Februarie 2005.
  16. Mellars, Paul (2006). "Why did modern human populations disperse from Africa ca. 60,000 years ago?". Proceedings of the National Academy of Sciences. 103 (25): 9381–6. Bibcode:2006PNAS..103.9381M.. doi:10.1073/pnas.0510792103. PMC 1480416. PMID 16772383. {{cite journal}}: Check |bibcode= length (hulp)
  17. Mcbrearty, Sally; Brooks, Alison S (November 2000). "The revolution that wasn't: a new interpretation of the origin of modern human behavior". Journal of Human Evolution. 39 (5): 453–563. doi:10.1006/jhev.2000.0435. PMID 11102266.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search