Die Middellandse See (die naam is afgelei van die oorspronklike Latyn mare mediterraneum) maak deel uit van die Atlantiese Oseaan, alhoewel dit net deur die Seestraat van Gibraltar met dié oseaan verbind word en andersins 'n binnelandse see vorm, wat die vastelande van Europa en Afrika van mekaar skei. Deur die Dardanelle, die See van Marmara en die Bosporus word dit ook met 'n aangrensende kleiner binnelandse see, die Swartsee van Oos-Europa, verbind. Die water van die Middellandse See beslaan 'n oppervlakte van 2 331 000 vierkante kilometer; die afstand tussen sy uiterste westelike en oostelike punte is sowat 3 520 km en die grootste afstand in 'n noord-suidrigting is 1 120 km. Die Middellandse See bereik sy diepste diepte in die Ioniese See op meer as 5 000 m.
Die see word in twee groot bekkens verdeel, die Westelike Hoofbekken met die Baleariese of Iberiese See in die weste en die Tireense See in die ooste, en die Oostelike Bekken, wat die Ioniese See met die Adriatiese See en die Levantynse See met die Egeïese See insluit.
Die grootste eilande is Korsika (Frankryk), Sardinië en Sisilië (Italië), die Baleariese Eilande (Spanje), Kreta en die Ioniese eilandgroep (Griekeland), Siprus en Malta.
© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search