Milwaukee

Milwaukee

Kaart Seël
Vlag
 Land Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
 Deelstaat Wisconsin
 Counties Milwaukee County
Waukesha County
Washington County
 Koördinate 43°3′N 87°57′W / 43.050°N 87.950°W / 43.050; -87.950
 Stigting 1785 as handelspos
 Geïnkorporeer op 31 Januarie 1846
 Oppervlakte:  
 - Totaal 251,7 vk km
 Hoogte bo seevlak 188 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2010) 594 833
 - Bevolkingsdigtheid 2 399,5/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 555 908
 - Combined statistical area (CSA) 1 751 316
 Tydsone CST (UTC -6)
 - Somertyd CDT (UTC -5)
 Klimaat  
 - Tipe Kontinentale klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 7,9 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie -5,4 / 22,1 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 882,9 mm
 Burgemeester Tom Barrett (D)
 Amptelike webwerf city.milwaukee.gov

Milwaukee (Engels: [mɪlˈwɔːki]) is die grootste stad en belangrikste hawe van die Amerikaanse deelstaat Wisconsin en die 22ste grootste stad in die land met 'n bevolking van 594 833 volgens die sensus van 2010. Milwaukee lê aan die suidwestelike oewer van die Michiganmeer, 112 kilometer noord van Chicago. Die stad dien as die administratiewe setel van die Milwaukee-distrik en as die kulturele en ekonomiese sentrum van die metropolitaanse gebied van Milwaukee-Racine-Waukesha met 'n totale bevolking van 1,7 miljoen.

Die eerste Europeërs wat die gebied van Milwaukee verken het, was Franse sendelinge en pelshandelaars. Die Franse setlaar Solomon Juneau het hom in 1818 in die gebied gevestig en in 1846 het sy nedersetting met twee ander buurdorpe saamgesluit om as die City of Milwaukee (Stad Milwaukee) geïnkorporeer te word. Danksy die groot getalle Duitse en ander immigrante het die stad in die 1840's en in die volgende dekades vinnig gegroei.

Duitse immigrasie het ook die basis gevorm vir Milwaukee se "goue tydperk" vanaf die middel van die 19de eeu wat deur 'n florerende kulturele en politieke lewe gekenmerk was en sy hoogtepunt in 1912 met die verkiesing van die eerste sosialistiese burgemeester in die Verenigde State bereik het.

Die bewoners van Milwaukee staan in Engels as Milwaukeeans bekend en hulle stad het vanweë sy talle etniese en musiekfeeste die bynaam The City of Festivals gekry. Danksy die groot aantal brouerye wat hulle hoofkwartier in die stad het, word dit ook dikwels Brew City genoem. Ander byname is German Athens (vanweë die sterk Duitse invloed) en Cream City ('n verwysing na die stad se tipiese boumateriaal, roomkleurige bakstene). Milwaukee fungeer steeds as 'n eersterangse kulturele en vermaaksentrum vir die Upper Midwest-streek.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search