Moshoeshoe

Moshoeshoe
Koning van die Basotho
Koning Moshoeshoe met sy ministers
Dinastie Huis van Lesotho
Bewind 1822 - 18 Januarie 1870
Volle naam Moshoeshoe
Gebore 1786
Menkhoaneng
Gesterf 11 Maart 1870
Opvolger Letsie I Moshoeshoe
Kinders Letsie I Moshoeshoe
Vader Mokachane

Moshoeshoe (voorheen ook gespel Mosjesj) was die opperhoof en stigter van die Basotho-volk.

Hy was die seun van Mokachane en is laat in die jaar 1790 naby die dorpie Butha-Buthe in die Noord-Lesotho gebore. Met sy besondere bekwaamheid en takt het hy die steun van vlugtelinge van baie ander stamme verkry.

Nadat hy hom in 1832 op die kruin van Thaba Bosigo gevestig het, het hy die Franse sendeling wat die volgende jaar daar aangekom het, hartlik verwelkom, maar nooit self tot die Christendom bekeer geraak nie. Deur hom af en toe aan 'n oënskynlike oorweldigende mag te onderwerp en geleidelik sy gesag te herstel, het hy daarin geslaag om homself teen sowel die Britte as die Boere te handhaaf.

Hy het in 1865 selfs daarin geslaag om 'n finale stormloop op Thaba Bosigo deur magte van die Oranje-Vrystaat af te weer. Hy het prestige onder sowel wit as swart mense geniet en is in 1870 oorlede as een van die grootste manne wat die Bantoestamme nóg opgelewer het. Sy moeder was Kholu, 'n lid van die Bafokeng. Mosjesj se naam by geboorte was Lepoqo, wat "moeilikheid" of "probleem" beteken.

Hy is so genoem omdat hy tydens 'n kwaai droogte gebore is. Tydens die inisiasieproses wat hy op ongeveer 18-jarige ouderdom ondergaan het, is sy naam verander na Tlaputle, wat "die energieke" beteken.

Sy boesemvriend, Makonyane, wat saam met hom die inisiasieskool bygewoon het, het later sy "veggeneraal" geword. Die twee vriende het saam talle waaghalsige strooptogte op die vee van naburige stamme uitgevoer, en in 'n loflied waarin sy waaghalsigheid besing word, het Tlaputle die naam Mosjesjwe ontvang. Die lied het hom vergelyk met 'n "barbier" wat die vee van ander "afskeer", en die naam is 'n nabootsing van die geluide van 'n skerp mes wat baard of hare skeer. Die naam Mosjesjwe het aan hom bly kleef en is verkort tot Mosjesj.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search