Mutasie

'n Mutasie is 'n sprongsgewyse verandering in die genetiese materiaal van 'n sel of organisme. Die verandering kan na die nageslag oorgedra word en kan dus 'n blywende verandering in die organisme bewerkstellig. Verskillende grootte ordes van mutasies kan onderskei word, insluitende veranderings in die struktuur en in die getal chromosome in 'n sel.

Die algemeenste mutasies is egter die waar die individuele draers van erflike eienskappe, die gene, self ʼn verandering ondergaan. Die molekulêre basis van sulke geenmutasies is vandag grotendeels opgeklaar. Gene bestaan uit deoksiribonukleïensuur (DNS, ook bekend as DNA), en die volgorde waarin die boustene van DNS in die DNS-ketting voorkom, bevat die voorskrif vir die sintese van ʼn proteïen. 'n Mutasie is niks anders nie as 'n verandering in die volgorde waarin die DNS-boustene in 'n geen voorkom.

Hierdie verandering kan plaasvind deur boustene in te las, weg te laat, om te ruil of te verander. Wanneer dit gebeur, verander ook die proteïen waarvoor die geen die nodige inligting bevat. Die mutasie kan 'n drastiese of slegs geringe invloed op die werking van die proteïen hê, na gelang van die plek en aard van die mutasie. Mutasies kan in alle selle plaasvind, maar die gevaarlikste en ingrypendste mutasies is die wat in die geslagselle plaasvind omdat dit direk na die nageslag oorgedra word.

Hoewel mutasies spontaan voorkom, kan die mutasietempo verhoog deur eksterne faktore soos straling of die inwerking van chemiese mutageniese stowwe. Byna alle kankerwekkende (karsinogene) verbindings is ook goeie mutageniese stowwe. Kunsmatig geïnduseerde mutasies kan soms met baie goeie gevolge gebruik word in die veredeling van plantgewasse.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search