Nabye Ooste

Embleem van die Buro vir Nabye Oosterse Sake.

Die Nabye Ooste is ’n geografiese streek wat min of meer Wes-Asië omvat. Hoewel dit binne verskillende akademiese sirkels wisselende definisies het, is die term aanvanklik gebruik vir die maksimum omvang van die Ottomaanse Ryk. Die term word nie meer dikwels gebruik nie en word nou vervang met "Midde-Ooste" en "Wes-Asië". Eersgenoemde term kan Egipte insluit en laasgenoemde Suidwes-Asië, insluitende die Transkaukasus.

Volgens die National Geographic Society dui die terme "Nabye Ooste" en "Midde-Ooste" dieselfde gebiede aan, en dit sluit gewoonlik in die lande van die Arabiese Skiereiland, Siprus, Egipte, Irak, Iran, Israel, Jordanië, Libanon, die Palestynse Grondgebiede, Sirië en Turkye.[1] Die Voedsel-en-landbou-organisasie (FAO) van die Verenigde Nasies definieer die streek op dieselfde manier, maar met die insluiting van Afganistan.[2]

Sommige instansies gebruik steeds die naam Nabye Ooste, soos die Buro vir Nabye Oosterse Sake, ’n afdeling van die Amerikaanse departement van buitelandse sake. Hier word geen onderskeid tussen die Nabye en Midde-Ooste getref nie; alle amptelike Midde-Oosterse sake word na hierdie buro verwys.[3]

Skrif is "uitgevind" (vir die administrasie), groot geboue (paleise, wagtorings, godsdienstige sentra) het verrys, en gemeenskappe het hul eie godsdiens, wetgewing, leer, paaiestelsel, ensovoorts, kortom kultuur ontwikkel. Die twee grootste landboubeskawings van die Nabye Ooste het omstreeks 4000 v. C. langs die oewers van die slikryke Eufraat- en Tigrisrivier in Mesopotamië en die Nyl in Egipte ontstaan.

Die twee kultuursentra het eeue lank die staatkundige beeld van die Nabye Ooste bepaal en het op allerlei gebiede met mekaar kontak gehad, meestal via Palestina en Sirië. Nuwe kulture wat dikwels aansienlik van die Mesopotamiese of Egiptiese model afgewyk het, het in die tussengebied, waar daar baie handelsentra was, en in die randgebiede Anatolië en later Griekeland, ontwikkel. In die laaste 1 000 jaar v.C. het die kulturele ontwikkeling in groot mate toegeneem, meestal deur middel van die handel.

Die plaaslike kulture het hulle eie karakter egter in groot mate behou, selfs nadat Alexander die Grote die hele Nabye Ooste in die 4e eeu v.C. in een Hellenistiese ryk verenig het. Kulturele eenheid het eers in die Romeinse tyd en later in die Bisantynse tyd gekom. Die feit dat die mens sy rondtrekkende en voedselversamelende leefwyse laat vaar en hom blywend op een plek gevestig het, het gelei tot die ontstaan van aparte kulture en ryke. Die proses van inburgering het waarskynlik omstreeks 8000 v.C.

In die gebied van die sogenaamde vrugbare halfmaan tussen Egipte en Mesopotamië begin. Die landbou-revolusie en die Nuwe Steentydperk (ook die Neolitiese Omwenteling genoem), wat omstreeks 4000 v.C. voltooi was, het die vertrekpunt gevorm vir die veelsoortige en unieke kulturele ontwikkeling in die Nabye Ooste.

  1. "Middle East, Near East". Style Guide (in Engels). National Geographic Society. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Mei 2020.
  2. "The Near East". Voedsel-en-landbou-organisasie (in Engels). Verenigde Nasies. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Januarie 2019. Besoek op 2 Maart 2019.
  3. "Near Eastern Affairs: Countries and Other Areas". Diplomacy in Action (in Engels). VSA-departement van buitelandse sake. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2019. Besoek op 2 Maart 2019.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search