Nasionale lied van Suid-Afrika

Die Nasionale lied van Suid-Afrika in die Suid-Afrikaanse staatskoerant, 1997
Nasionale lied van Suid-Afrika
Die Stem van Suid-Afrika” en “Nkosi Sikelel' iAfrika” word deur ’n Amerikaanse militêre orkes in 1994 as deel van ’n amptelike staatsbesoek van die Suid-Afrikaanse president Nelson Mandela aan die Amerikaanse hoofstad Washington, D.C. saam opgevoer

Die Nasionale lied van Suid-Afrika is sedert 1996 ’n samevoeging van “Die Stem van Suid-Afrika” en “Nkosi Sikelel' iAfrika” (God seën Afrika) en is in 1997 as Suid-Afrika se nasionale volkslied goedgekeur. Die onderskeie verse is in die vyf mees gebruikte Suid-Afrikaanse tale (Afrikaans, Engels, Suid-Sotho, Xhosa en Zoeloe)[1] en die lied bestaan uit twee dele in verskillende toonhoogtes. Die eerste twee verse is ontleen aan “Nkosi Sikelel' iAfrika”, terwyl die laaste twee aan “Die Stem van Suid-Afrika” ontleen is, met die laaste vers wat heeltemal verander is. Die eerste twee lyne van die eerste vers is in Xhosa, die volgende twee in Zoeloe, gevolg deur Suid-Sotho in die tweede vers, Afrikaans in die derde vers en Engels in die vierde. Die komitee wat vir die nuwe komposisie verantwoordelik was het bestaan uit Anna Bender, Elize Botha, Richard Cock, Dolf Havemann (sekretaris), Mzilikazi Khumalo (voorsitter), Mazisi Kunene, John Lenake, Fatima Meer, Khabi Mngoma, Wally Serote, Johan de Villiers en Jeanne Zaidel-Rudolph.[2]

Die nasionale lied van Suid-Afrika is ’n saamvoeging van nuwe Engelse lirieke met uittreksels van die 19de-eeuse lied “Nkosi Sikelel' iAfrika”, wat deur Enoch Sontonga gekomponeer is, en die Afrikaanse lied “Die Stem van Suid-Afrika” wat vanaf die laat 1930’s tot die middel 1990’s as die nasionale volkslied van Suid-Afrika gedien het.[3] Vanaf 1994 tot 1997 het albei liedere in hul volledige weergawe langs mekaar as nasionale volksliedere van Suid-Afrika gedien.[4]

Na die Nasionale lied van Suid-Afrika word gereeld verwys as “Nkosi Sikelel' iAfrika” (weens sy eerste woorde), maar dit was nog nooit sy amptelike naam nie; dit staan as “Nasionale lied van Suid-Afrika” bekend. Dit is in 2017 deur The Economist as die beste nasionale volkslied wêreldwyd benoem.[5]

  1. (en) "National anthem". sahistory.org.za. Besoek op 23 Mei 2017.
  2. (en) Breakfast, Swellendam Guesthouse B&B | Augusta de Mist | Garden Route Accommodation | Bed and (13 April 2015). "The South African National Anthem: a history on record". Swellendam Country House | Hotel | B&B | Augusta de Mist | Garden Route Accommodation | Bed and Breakfast. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2019. Besoek op 31 Desember 2018.
  3. (en) "South Africa Will Play Two Anthems Hereafter". The New York Times. New York. 3 Junie 1938. p. 10. Besoek op 31 Oktober 2018.
  4. (en) "National Anthem". Departement van Kuns en Kultuur, Regering van Suid-Afrika. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Oktober 2018. Besoek op 13 Oktober 2018.
  5. (en) "Nkosi Sikelel' iAfrika is world's favourite national anthem". Times Live. 27 Desember 2017.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search