Organiese chemie

3-etiel,4-metielheptaan

Organiese chemie is die wetenskaplike studie van die struktuur, eienskappe, samestelling, reaksies en sintese van organiese verbindings, oftewel chemiese verbindings wat koolstof bevat. Daar is egter koolstofverbindings wat 'n uitsondering vorm, soos karbonate, karbiede, oksiede, sianiede, koolstofdioksied (CO2) en koolstofmonoksied CO. Hulle word tradisioneel nie tot die organiese verbindings gereken nie.[1]

Organiese verbindings word gewoonlik deur koolstofkettings gekenmerk, wat koolstofatome en gewoonlik ook waterstofatome bevat. Indien dit die enigste elemente is word hierdie organiese stowwe koolwaterstowwe genoem. Organiese stowwe kan nogtans 'n verskeidenheid ander elemente bevat, insluitend stikstof, suurstof, halogene sowel as fosfor, silikon en swawel.

Organiese chemie lê hom op die chemie van net een element (koolstof) toe, maar dit behels meer verbindings as alle ander elemente se verbindings bymekaar. Die geraamde aantal organiese verbindings is meer as tien miljoen.[2] Hier moet nogtans 'n temperatuur bygevoeg word: dit is net waar onder ongeveer 200-300  °C. Bo hierdie temperatuur is die meeste organiese verbindings nie stabiel nie en ontbind hulle spontaan.[3] Die organiese chemie van die planeet Venus is dus baie armer as die Aarde s'n.

'n Kenmerk van organiese verbindings is dat hulle gewoonlik molekulêr en hoofsaaklik kovalent is en nie ionies soos die meeste soute of metallies soos die meeste metaal-metaalverbindings nie.

Die oorspronklike definisie van "organiese" chemie het gespruit uit die wanopvatting dat organiese verbindings altyd verwant was aan lewensprosesse. Daar is egter gevind dat nie-lewende prosesse, "in vitro": buite die liggaam van lewende wesens- ook organiese molekules sinteties (kunsmatig) kan produseer.

  1. Kazimierz Strzalka, Pieter Ketner p. 393 in: Plant Ecophysiology John Wiley & Sons, 1997, ISBN 0-471-13157-1, ISBN 978-0-471-13157-1
  2. "chemistry explained" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Oktober 2019. Besoek op 4 Augustus 2017.
  3. Thermal decomposition of organic oxalates,tritylazocarboxylates, and triphenylacetates,Douglas Edward Zabel proefskrif Iow State 1968.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search