Pannekoek

Pannekoek
Pannekoek met kaneelsuiker.
Pannekoek met kaneelsuiker.
Soort gereg Deeggebak
Land Wêreldwyd
Hoofbestanddeel Meel, eier, melk
Variasies Talle
Soortgelyke geregte Wafels, plaatkoekies
Pannekoeke met vrugte.
'n Pannekoek met stroop
Pannekoekbeslag: meel, melk en eier

’n Pannekoek is ’n gereg, dikwels dun en rond, wat van meel, eier, melk en ’n bietjie sout gemaak en in ’n pan met verhitte olie gebak word. Die pannekoek word met ’n spaan omgedraai of in die lug opgeskiet sodat dit op die rou kant in die pan terugval. Volgens argeologiese bewyse is pannekoek waarskynlik die eerste en mees algemene graangereg wat in prehistoriese gemeenskappe geëet is.[1]

Die pannekoek se vorm en struktuur verskil wêreldwyd. In Noord-Amerika word ’n rysmiddel (gewoonlik bakpoeier) gebruik om ’n dik, donsige pannekoek te maak. ’n Crêpe is ’n dun Franse pannekoek wat aan een of albei kante in ’n spesiale pan gebak word om ’n kantagtige netwerk van fyn borrels te kry. In Brittanje is die beslag dikwels ongesuur en lyk dit soos ’n crêpe.[2] ’n Bekende variasie uit Suid-Europa is ’n palačinke, ’n dun en klam pannekoek wat aan albei kante gebak en met konfyt, roomkaas, sjokolade, ens. gevul word.

Wanneer aartappels gebruik word as ’n groot deel van die beslag, is die resultaat ’n aartappelpannekoek. Wanneer karringmelk in plaas van of saam met melk gebruik word, het die pannekoek ’n tertsmaak – dié karringmelkpannekoeke is algemeen in Skotland en die VSA. Soms word bokwietmeel gebruik vir pannekoeke soos blini, kaletez en ploye uit onderskeidelik Rusland, Bretagne en Kanada. In baie lande is kommersieel bereide bestanddele te koop.

Pannekoeke kan enige tyd van die dag voorgesit word met ’n verskeidenheid vulsels soos konfyt, vrugte, stroop of vleis. In Suid-Afrika word pannekoeke dikwels met kaneelsuiker bestrooi. In Amerika word dit hoofsaaklik as ’n ontbytgereg beskou.

Soortgelyke geregte is wafels en plaatkoekies.

  1. Jones, M. Feast; Why Humans Share Food, Oxford University Press, 2007
  2. Nelson, Libby (29 November 2015). "British desserts, explained for Americans confused by the Great British Baking Show" (in Engels). Vox. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Februarie 2020. Besoek op 3 Desember 2015.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search