Poema

Hierdie artikel handel oor die soogdier van die familie Felidae, vir die Suid-Afrikaanse provinsiale rugbyspan, sien Pumas, en vir die genus, sien Puma (genus).

Poema
Tydperk: Sedert Middel-Pleistoseen
'n Poema in die dieretuin van Cincinnati
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Spesie:
P. concolor
Binomiale naam
Puma concolor
(Linnaeus, 1771)
Subspesies
  • P. c. couguar – Noord-Amerika
  • P. c. costaricensis – Sentraal-Amerika
  • P. c. capricornensis – oostelike Suid-Amerika
  • P. c. concolor – noordelike Suid-Amerika
  • P. c. cabrerae – sentrale Suid-Amerika
  • P. c. puma – suidelike Suid-Amerika
  • P. c. coryi – slegs suidelike Florida

Sien ook teks

Verspreiding van die poema in die Amerikas
Sinonieme

Felis concolor

Die poema (Puma concolor), voorheen bekend as die bergleeu, is ’n soogdier van die familie Felidae, wat eie is aan die Amerikas. Hierdie groot, enkellopende katsoort het die grootste verspreidingsgebied van alle groot wilde landsoogdiere in die Westelike Halfrond,[2] 'n hougebied wat vanaf Yukon in Kanada tot die suidelike Andesgebergte van Suid-Amerika strek. As ’n aanpasbare, wydverspreide spesie, word die poema in bykans elke groot Amerikaanse habitat aagetref. Die poema kan uitgeken word aan sy groot, katagtige voorkoms, met 'n egalige geelbruin pels en lang stert. ’n Volwasse poema se stert kan nagenoeg een meter lank word, wat sowat ’n derde tot die helfte van sy liggaamslengte beslaan. Dit is die tweede swaarste kat op die twee vastelande, naas die jaguar. Ondanks die poema se bonkige voorkoms, is hy nader verwant aan die kleiner katsoorte, waaronder die huiskat, as aan enige subspesie van die leeu (en gevolglik was die benaming bergleeu nog altyd misleidend).

Die poema, wat meestal teen dagbreek en sononder aktief is, is ’n doeltreffende jagter wat sy prooi óf voorlê óf bekruip en dan bespring. Hul dieet bestaan uit ’n groot verskeidenheid hoefdiere, waaronder takbokke, elke, Amerikaanse elande (moose), dikhoringskape, sowel as beeste, perde en skape, veral in die noordelike dele van die Amerikas, wat ten prooi geval kan word. Nieteenstaande hiervan maak hulle ook jag op insekte- en knaagdierspesies. Hierdie katsoort verkies habitatte met digte onderbos en rotsagtige gebiede om hul prooi beter te bekruip, maar is ook tuis in die oop veld. Die poema is territoriaal van aard, en word in lae bevolkingsdigthede aangetref. Territoriumgroottes hang grotendeels af van die terrein, plantegroei en die hoeveelheid prooi wat voorkom. Hoewel dit ’n groot roofdier is, is die poema nie noodwendig die dominante spesie in sy tuisgebied nie – daar moet onder andere om prooi meegeding word met ander roofdiere soos die jaguar, wolf, swartbeer en grysbeer. Dit is ’n seldsame kat wat die mens gewoonlik probeer ontwyk. Aanvalle op mense kom selde voor, ondanks ’n onlangse toename.[3]

Vanweë oormatige jag en menslike ontwikkeling wat sedert die Europese kolonisering van Amerika inbreuk op die poema se habitat gemaak het, het die bevolkingsgetalle in die meeste dele van die oorspronklike tuisgebied gekrimp. Die puma is veral aan die oostelike Noord-Amerika uitgeroei, met ’n afsonderlike onderbevolking wat in Florida oorleef het. Ooggetuienis beweer dat die dier besig is om na sy voormalige oostelike tuisgebied, waaronder Maine en Noord-Michigan,[4][5] terug te keer.

In Noord-Amerika is die poema inheems aan Wes-Kanada (veral Brits-Columbië en Yukon), Washington, Oregon en Noord-Carolina. Oregon op sigself is die tuiste vir meer as 5 000 poemas, met die hoogste voorkoms in die Blue-gebergte in die noordoostelike gedeelte van die staat en in die suidwestelike Cascade-reeks. Hul vernaamste prooi bestaan hier uit takbokke, hoewel wasbere, elke, dikhoringskape en ander soogdiere en voëls ook as voedsel dien.

  1. (en) Caso, A., Lopez-Gonzalez, C., Payan, E., Eizirik, E., de Oliveira, T., Leite-Pitman, R., Kelly, M., Valderrama, C. & Lucherini, M. (2008). Puma concolor. 2008 IUBN Rooi Lys van bedreigde spesies. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur 2008. Verkry op 22 Maart 2009. Database-inskrywing regverdig die aanwysing van ‘veilig’
  2. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named diet
  3. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Med
  4. (en) http://twitpic.com/od2y4
  5. (en) http://www.cougarnet.org/bigpicture.html Geargiveer 9 Julie 2007 op Wayback Machine

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search