RMS Titanic

Hierdie artikel handel oor die stoomskip. Vir die 1997-rolprent, sien Titanic (rolprent). Sien Titanic (dubbelsinnig) vir ander gebruike van die term.
Die RMS Titanic.
Bakboordaansig van 'n skaalmodel van die RMS Titanic.
Agterskip van die Titanic (skaalmodel).
Die droogdok vandag. Die White Star Line-kantore en 'n Harland- en Wolff-kraanvoertuig is op die agtergrond.

Die RMS Titanic was 'n passasierskip (deel van die Olympic-reeks) wat deur die Britse skeepsmaatskappy White Star Line besit is en op die Harland and Wolff-skeepswerf in Belfast (Ierland) gebou is. Dit was die grootste passasierstoomskip ter wêreld ten tyde van sy tewaterlating. Die bouers van die skip het gehoop dat dit die transatlantiese skeepsvaartbedryf sou domineer. Edward Smith was die kaptein van die skip tydens die ramp.

In die nag van 14 April 1912, tydens die skip se nooiensvaart, het Titanic 'n ysberg getref en twee ure en veertig minute later, vroeg op 15 April 1912, gesink. As gevolg van die sinking het 1 517 mense hul lewens verloor, wat hierdie tragedie een van die ergste seevaartongelukke gedurende vredestyd maak. Die hoë sterftesyfer word gedeeltelik daaraan toegeskryf dat die skip — alhoewel dit aan die regulasies van daardie tyd voldoen het — nie genoeg reddingsbote gedra het om vir al die passasiers voorsiening te maak nie. Die skip het 'n totale reddingsbootkapasiteit van 1 178 mense gehad, alhoewel die skip 'n kapasiteit vir 3 547 gehad het en 2 223 ten tyde van die ongeluk vervoer het. 'n Disproporsionele aantal mans het gedurende die tragedie gesterf as gevolg van die vrouens-en-kinders-eerste-beleid wat met die vul van die reddingsbote gevolg is.

Van die mees gevorderde tegnologie van daardie tyd is in Titanic gebruik. Ná die sinking het min mense geglo die skip is eens as "onsinkbaar" beskryf.[1] Baie mense was geskok deur die feit dat Titanic gesink het ten spyte van die uitgebreide veiligheidsmaatreëls en ervare skeepsbemanning.

Die beheptheid van die massamedia met Titanic se beroemde slagoffers, die legendes oor die tragedie, die daaropvolgende veranderinge in maritieme wetgewing, en die ontdekking van die skeepswrak dra by tot die voortdurende belangstelling in die Titanic.

  1. Richard Howells The Myth of the Titanic, ISBN 0-333-72597-2

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search