Reuseplaneet

Die Sonnestelsel se vier reuseplanete teen die Son, volgens skaal.
Die relatiewe massas van die vier reuseplanete in die buitenste Sonnestelsel.

’n Reuseplaneet is enige baie swaar planeet. Hulle bestaan gewoonlik hoofsaaklik uit materiale met ’n lae kookpunt (gasse of yse), eerder as rots of ander soliede materie soos die aardplanete. Swaar aardplanete kan egter ook bestaan. Daar is vier bekende reuseplanete in die Sonnestelsel: Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Baie ekstrasolêre reuseplanete is al om ander sterre geïdentifiseer.

Reuseplanete word soms Joviaanse planete genoem, na aanleiding van Jupiter ("Jove" is ’n ander naam vir die Romeinse god Jupiter). Hulle word soms ook gasreuse genoem. Sterrekundiges gebruik dié term egter net vir Jupiter en Saturnus, en klassifiseer Uranus en Neptunus as ysreuse omdat hulle ’n ander samestelling het.[1] Albei name is potensieel misleidend, want al die reuseplanete bestaan hoofsaaklik uit vloeistowwe bo hulle kritieke punt, waar gas- en vloeistoffases nie bestaan nie. Die vernaamste bestanddele is waterstof en helium in die geval van Jupiter en Saturnus, en water, ammoniak en metaan in die geval van Uranus en Neptunus.

Daar word gedebatteer oor die bepalende verskille tussen ’n bruindwergster en ’n reuseplaneet (geraam op sowat 13 Jupitermassas).[2] Een skool dink dit lê in die vorming, terwyl ’n ander dink dit lê in die fisiese eienskappe van die binnekant.[2] ’n Deel van die debat gaan oor of "bruindwerge" per definisie die een of ander tyd in hulle geskiedenis kernfusie moes ondergaan het.

  1. Lunine, Jonathan I. (September 1993). "The Atmospheres of Uranus and Neptune". Annual Review of Astronomy and Astrophysics. 31: 217–263. Bibcode:1993ARA&A..31..217L. doi:10.1146/annurev.aa.31.090193.001245. {{cite journal}}: Ongeldige |ref=harv (hulp)
  2. 2,0 2,1 Burgasser, A. J. (Junie 2008). "Brown dwarfs: Failed stars, super Jupiters" (PDF). Physics Today. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 8 Mei 2013. Besoek op 11 Januarie 2016.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search