Rolandslied

Die slag van Roncevaux in 778. Die dood van Roland, uit die Grandes Chroniques de France, uitgebeeld deur Jean Fouquet, Tours, omtrent 1455-1460
Bibliothèque nationale de France
'n Anglo-Normandiese manuskrip word in die Bodleian Library te Oxford, Engeland bewaar (1129–1165)

Die Rolandslied (Frans: Chanson de Roland) is die beroemdste Franse heldedig en behandel die dade van Graaf Roland van die Bretonse Mark en sy paladyne (hofridders) wat op 18 Augustus 778 in die slag van Roncesvalles (Frans: Roncevaux) gesneuwel het.

Die lied, wat in die tradisie van die chansons de geste geskryf is, verbeeld Roland as volmaakte ridder en bloedverwant van Karel die Grote. Tydens die eerste kruistog teen die Spaanse moslems het Roland die opperbevel oor die agterhoede van die Christelike leër. Op hulle terugtog na Frankryk word die ridders in 'n Baskiese hinderlaag gelei. Saam met sy maat Olivier red Roland die leër deur sy heldemoed en opoffering en weier tot by sy dood om hulp te versoek.

Die heldedigte of chansons de geste behandel historiese onderwerpe uit die Merowingiese en Karolingiese tydperk; die Rolandslied is die eerste bekende voorbeeld. Hierdie epiek is volgens sy eie versleer geskryf en bestaan uit assonerende langverse wat tot laisses ('n soort strofes) saamgevoeg is. Die voordrag was waarskynlik musikaal.

Die oudste verwerkings van die Rolandslied ontstaan in die 10de eeu. Dit raak baie gewild in die 11de eeu en word aan die vooraand van die slag van Hastings vir die leër van Willem die Veroweraar voorgedra. Die manuskrip wat in Oxford bewaar word, bevat die volledigste verwerking wat in die Anglo-Normandiese dialek geskryf is. Dit is vermoedelik tydens die heerskappy van Henri (Hendrik) II Plantagenet in Normandië geskryf. 'n Duitse bewerking deur die priester Konrad ontstaan omtrent 1170. 'n Nederlandse bewerking van onbekende herkoms is uit dieselfde eeu oorgelewer.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search