Rudyard Kipling



Joseph Rudyard Kipling

Engelse digter en skrywer


Handtekening


Literêre genres
Kortverhale, romans, kinderboeke, poësie, reisliteratuur, wetenskapsfiksie


Beduidende werke


The Jungle Book (1894)
Kim (1901)

Joseph Rudyard Kipling ['rʌdjəd ˈkɪplɪŋ] (* 30 Desember 1865; † 18 Januarie 1936) was 'n Engelse digter en skrywer wat veral bekendheid verwerf het met sy verhale en gedigte oor Britse soldate in Indië, sy kinderverhale, die verhaalbundel The Jungle Book, die avontuurroman Kim, 'n groot verskeidenheid kortverhale, waaronder The Man Who Would Be King, en gedigte soos Mandalay, Gunga Din (albei gepubliseer in 1890), The White Man's Burden (1899) en If- (1910).

Kipling is in Bombaai (tans Mumbai), 'n stad in die gelyknamige provinsie van Brits-Indië, gebore en het op vyfjarige ouderdom saam met sy ouers na Engeland verhuis.

Een van Kipling se belangrikste prestasies is sy vernuwing van die kortverhaal as literêre genre,[1] terwyl sy kinderboeke tot die klassieke werke van dié genre gereken word. Die Ierse skrywer James Joyce het Kipling saam met Tolstoi en D'Annunzio as die "drie 19de eeuse skrywers met die grootste natuurlike aanleg" beskou, alhoewel Kipling volgens hom sy talent as skrywer nie ten volle aangewend het nie. Vir Joyce het al drie skrywers "half-fanatieke beskouings oor godsdiens of patriotisme" gedeel.[2]

Kipling se prosa- en liriese werke was in die laat 19de en vroeë 20ste eeu baie gewild by die Engelse leserspubliek. In 1907 is die Nobelprys vir Letterkunde aan hom toegeken.[3] Hy was die eerste Engelse skrywer wat met dié prys bekroon is, en is steeds die jongste wenner ooit.

Namate die politieke en maatskaplike klimaat verander het, het sommige van Kipling se werke en beskouings omstrede geraak. George Orwell het na hom in een van sy essays as 'n "profeet van Britse imperialisme" verwys. Vir die literêre kritikus Douglas Kerr is Kipling 'n skrywer wie se prestasies in die literêre en kulturele geskiedenis moeilik is om te bepaal aangesien vurige debatte daaroor gevoer kan word: "Maar namate die historiese afstand tot die tydperk van Europese koloniale ryke groter word, word hy erken as 'n onvergelykbare, hoewel omstrede, vertolker van die manier waarop die Britse Ryk ervaar is." Kipling se vertelkuns was vir Kerr in elk geval van 'n hoë orde.[4]

  1. Andrew Rutherford: General Preface to the Editions of Rudyard Kipling, in: Rudyard Kipling: Puck of Pook's Hill and Rewards and Fairies. Oxford University Press 1987
  2. Dagboek van David Fleischman, 21 Julie 1938, aangehaal in: Richard Ellmann: James Joyce. Oxford University Press 1983, bl. 661
  3. "The Nobel Prize in Literature 1907" (in Engels). Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2018. Besoek op 7 Oktober 2017.
  4. Douglas Kerr, Universiteit van Hong Kong: Rudyard Kipling. In: The Literary Encyclopedia. The Literary Dictionary Company 2002

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search