Rys

Rys (Oryza sativa)
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Divisie:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Spesie:
O. sativa
Binomiale naam
Oryza sativa
L.

Rys (Oryza sativa) behoort soos alle grane tot die grassefamilie (Poaceae) en is 'n stapelvoedsel vir 'n groot deel van die wêreldbevolking, veral in die warmer streke. In die subtrope word die ondersoort Oryza sativa subspesie japonica verbou, terwyl in die trope die ondersoort Oryza sativa subspesie indica die oorhand het. China is die grootste verbouer en verbruiker van rys en Thailand is die grootste uitvoerder. Thailand verskaf sowat 75% van Suid-Afrika se verbruikte rys.[1] Die Amerikaanse departement van landbou raam dat Suid-Afrika se rysbehoefte sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 verdubbel het.[1]

Die dun vliesie om die ryskorrel, die silwervlies genoem, word soms ter wille van die voorkoms afgedop. Dit is egter 'n belangrike bron van vitamien B1.

Hoewel rys van nature 'n moerasplant is, kan die gewas ook droog verbou word, dit wil se onafhanklik van reën of kunsmatige besproeiing. Gewoonlik word spesiale variëteite vir droë rysverbouing gebruik, maar dit is nie noodsaaklik nie.

Die droë rysverbouing kom baie met die verbouing van ander tropiese en subtropiese grane ooreen. In die meeste lande waar rys op besproeibare landerye verbou word, word ook droë rysverbouing toegepas, maar dit beslaan hoogstens 10 % van die totale oppervlakte (ongeveer 13 miljoen ha) van rysverboubare land. Die grootste produsent wat rys volgens die droë metode verbou, is Brasilië.

Die stelsel wat die meeste in droë rysbou toegepas word, is wisselbou. Hier word 'n deel van die oorspronklike bos afgekap, verkieslik in die droë seisoen. Die hout bly dan 'n tyd lank lê, waarna dit aan die brand gesteek word. Na die eerste reën word daar met behulp van 'n plantstok gesaai.

Aangesien die grond reeds 'n goeie struktuur het van wee die aanwesigheid van organiese stowwe wat van die gekapte plante afkomstig is, is grondbewerking soos skoffel in die eerste jaar oorbodig, en kom daar vanweë die brand skaars onkruidsaad in die bosgrond voor. As rys ʼn tweede keer op dieselfde grond gesaai word, is grondbewerking en gereelde skoffel wel nodig omdat die groeivoorwaardes vir verskeie onkruide aanmerklik gunstiger geword het.

'n Derde rysoes is meestal nie moontlik nie. Gewoonlik word die grond na die tweede oes gelaat en word daar op 'n ander stuk grond opnuut met aanplant begin. Die ou grond kan met knolgewasse of piesangs beplant word. Na 'n paar jaar -waarin die grond die geleentheid gekry het om te herstel – kan die siklus herhaal word. 'n Dergelike stelsel is op die steppe en ander grasbegroeide grond moontlik.

Vanweë die laer vrugbaarheid van die grond is net een oes moontlik voordat 'n braaktydperk van 'n paar jaar moet volg. Die opbrengste op hierdie grasgrond is laer as die van die verbouing op die bosgrond, en 'n permanente rysverbouing op droë grond is selde moontlik. In die subtrope word die rys as wisselbougewas naas koring of 'n ander graan verbou. Die groot gevaar wat aan droë rysverbouing verbonde is, is die vervuiling en vinnige groei van onkruid wat die werklike herstel van die grond se vrugbaarheid onmoontlik maak.

  1. 1,0 1,1 (af) SA kan spaar deur eie rys te kweek[dooie skakel] Geraadpleeg op 4 Januarie 2012

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search