Sentraalmassief

Die ligging van die Sentraalmassief in Frankryk
Die Puy Mary (1 787 meter) is een van die oorblyfsels van Europa se grootste historiese vulkaan
Die kapel van Saint Michel d'Aiguilhe in Le Puy-en-Velay

Die Sentraalmassief (Frans: Massif Central) is 'n yl bevolkte berglandskap in Sentraal- en Suid-Frankryk, met hoogtes tussen 700 en byna 1 900 meter bo seevlak, wat met 85 000 vierkante kilometer sowat vyftien persent van die land se oppervlak beslaan.

Die massief is sowat 350 miljoen jaar gelede gevorm, tog het die berge as gevolg van erosie vandag nog slegs 'n gemiddelde hoogte van tussen 500 en 1 000 meter. Die hoogplatos het tydens 'n latere geologiese tydperk, die Tersiêr, deur alpidiese bergvorming en vulkanisme ontstaan. Die vulkane is eers sowat 6 000 tot 10 000 jaar gelede geblus, en selfs die kleinste aardbewings in die gebied word nog steeds deur seismoloë gemonitor. Die Puy de Sancy in Auvergne is met 1 885 meter die hoogste berg in die Sentraalmassief.

Die Sentraalmassief vorm geen presies afgebakende geografiese, geologiese of historiese eenheid nie. Soms word die term gebruik om uitsluitend na die vulkaniese bergreekse van Auvergne te verwys. Daar is egter verskillende geweste, wat onder meer ten opsigte van hulle mikroklimaat en bodem onderskei kan word.

Volgens hulle geologiese karakter word die bergreekse van Auvergne, die land van die vulkane; die Cevennes-bergereeks; die kalkagtige, barre platos, wat Causses genoem word, met 'n sterk Mediterreense inslag; en die bergagtige gedeelte van Languedoc-Roussillon in die uiterste suide.

Gewoonlik word die Sentraalmassief egter vereenselwig met die régions (geweste) Auvergne en Limousin.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search