Skots-Gaelies

Skots-Gaelies
Gàidhlig 
Uitspraak: [ˈkaːlɪkʲ], ['ɡaːlɪɡʲ]
Gepraat in: Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
Vlag van Kanada Kanada
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
Vlag van Australië Australië
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 
Gebied: Vlag van Skotland Skotland
Nova Scotia
Totale sprekers: 58 552 in Skotland.[1]

92 400 mense ouer as 3 in Skotland kon tot 'n mate Gaelies praat in 2001[2] met 'n verdere 2000 in Nova Scotia.[3] 1 610 sprekers in die VSA in 2000.[4] 822 in Australië in 2001.[5] 669 in Nieu-Seeland in 2006.[6]

Taalfamilie: Indo-Europees
 Kelties
  Eiland-kelties
   Goideliese
    Skots-Gaelies 
Skrifstelsel: Latynse alfabet (Skotse variant) 
Amptelike status
Amptelike taal in: Vlag van Skotland Skotland
Gereguleer deur: Bòrd na Gàidhlig ("Gaeliese Instituut")
Taalkodes
ISO 639-1: gd
ISO 639-2: gla
ISO 639-3: gla 
Verspreiding van Skots-Gaelies

Skots-Gaelies (Gàidhlig, [ˈkaːlɪkʲ], ['ɡaːlɪɡʲ], ; vroeër ook Ersies genoem) is die inheemse Keltiese taal van Skotland wat – as omgangs- of kultuurtaal en as die stigtingstaal van Skotland as 'n verenigde koninkryk – oorspronklik vanaf die 9de tot 11de eeu in die hele land en deur alle lae van die samelewing gebesig is, insluitende die Skotse koningshof.[7] Sy invloed word vandag steeds weerspieël in plek- en persoonsname.

Verspreiding van Skots-Gaelies in 2001

Oor die eeue is Gaelies geleidelik verdring deur Skots en Engels en word vandag – ná twee eeue van dramatiese agteruitgang – nog deur klein taalgemeenskappe op die Buite-Hebride-eilande, in die westelike Skotse Hoogland, die Strathclyde-streek en in Glasgow, Edinburg en Inverness gepraat. Glasgow het danksy die vestiging van verskeie instellings, wat die taal bevorder en onderrig, tot 'n belangrike kulturele en opvoedkundige sentrum vir Gaeliese taal en kultuur ontwikkel. Baie sprekers praat egter nie Gaelies as hulle moeder- of eerste taal nie. Veral in Glasgow, waar 'n tiende van alle Gaeliessprekers saamgetrek is, word Skots-Gaelies oorwegend as 'n tweede taal gebesig. Gaeliessprekers is gewoonlik ook Engels magtig. Gaelies se ryk kulturele erfenis speel 'n sentrale rol in die herlewing van die taal wat selfs na die moderne popkultuur en hoofstroom-vermaaklikheidsbedryf begin uitstraal het. So het kykers van die gewilde televisiereeks Outlander 'n kans gekry om na gesproke Gaelies te luister.[8]

In taalhistoriese opsig maak Skots-Gaelies deel uit van die Goideliese groep van Eiland-Keltiese tale en is nou verwant met Iers en Manx. Die nou taalverwantskap met Iers is volgens sommige wetenskaplikes te danke aan die immigrasie van Ierse Skote sedert die 4de eeu. 'n Alternatiewe hipotese beweer dat die taal gelyktydig in Ierland en Skotland ontstaan het, veral aangesien die immigrasie-hipotese nie deur argeologiese opgrawings gesteun kon word nie. Skots-Gaelies moenie verwar word met Skots nie, die Germaanse omgangstaal van Skotland, wat uit die Angel-Saksiese dialekte van Suid-Skotland ontwikkel het.

'n Ouer historiese naam vir Gaelies, Ersies, verwys na die feit dat Gaeliese moedertaalsprekers hul taal nog tot in die 17de eeu as 'n soort Iers beskou het. Iers het destyds in Skotland selfs as skryftaal vir die inheemse Gaeliese dialekte gedien. Die naam Ersies (Engels: Erse) is afgelei van "Iers".

  1. "CnaG | Census 2001 Scotland: Gaelic speakers by council area". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 September 2006. Besoek op 22 April 2009.
  2. "News Release – Scotland's Census 2001 – Gaelic Report" Geargiveer 22 Mei 2013 op Wayback Machine from General Registrar for Scotland website, 10 Oktober 2005. Besoek op 27 Desember 2007
  3. ""Oifis Iomairtean na Gaidhlig". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Oktober 2008. Besoek op 22 April 2009.
  4. "Language by State – Scottish Gaelic" Geargiveer 11 Januarie 2012 op Wayback Machine on Modern Language Association website. Besoek op 27 Desember 2007
  5. "Languages Spoken At Home" from Australian Government Office of Multicultural Interests website. Besoek op 27 Desember 2007
  6. Languages Spoken:Total Responses from Statistics New Zealand website. Besoek op 5 Augustus 2008
  7. Glasgow City Council: Gaelic. Besoek op 7 Januarie 2018
  8. Visit Scotland: About Gaelic language & history. Besoek op 27 Februarie 2018

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search