Smaak

Smaakknoppie

Smaak, gustatoriese persepsie, of smaaksin[1] is een van die vyf tradisionele sintuie wat tot die gustatoriese stelsel behoort.

Smaak is die sensasie wat voortgebring word wanneer 'n stof in die mond chemies reageer met reseptorselle wat geleë is op smaakknoppies in die mondholte - meestal op die tong. Smaak, saam met reuk (olfaksie) en trigeminale senuwee stimulasie (die registrasie van tekstuur, pyn en temperatuur), bepaal geure van kos of ander stowwe. Mense het smaakreseptore op smaakknoppies en ander gebiede, insluitend die boonste oppervlak van die tong en die keelklep.[2][3]

Die tong is bedek met duisende klein knoppies wat papillae genoem word en wat sigbaar is met die blote oog. Binne elke papil is daar honderde smaakknoppies.[4] Die uitsondering hierop is die filiform papillae wat nie smaakknoppies bevat nie. Daar is tussen 2000 en 5000[5] smaakknoppies wat agter op die tong en op die voorkant van die tong geleë is. Ander is geleë op die dak, kante en agterkant van die mond, en in die keel. Elke smaakknoppie bevat 50 tot 100 smaakreseptorselle.

Die sensasie van smaak sluit vyf basiese smake in: soet, suur, sout, bitterheid, en umami.[6][7] Smaakknoppies kan onderskei tussen verskillende smake deur die interaksie met verskillende molekules of ione. Soet, umami, en bitterheid word veroorsaak deur die binding van molekules met G-proteïengekoppelde reseptore op die selmembrane van smaakknoppies. Sout en suur word waargeneem wanneer alkaliemetaal- of waterstofione onderskeidelik die smaakknoppies binnedring.[8]

Die basiese smake dra slegs gedeeltelik by tot die sensasie en smaak van kos in die mond — die ander faktore wat meewerk is reuk,[2] waargeneem deur die olfaktoriese epiteel van die neus;[9] tekstuur,[10] wat waargeneem word deur middel van 'n verskeidenheid van meganoreseptore, spiere, senuwees, ens.;[11] temperatuur wat waargeneem word deur termoreseptore; en "koelheid" (bv. mentol) en "hitsigheid" (pikantheid).

Aangesien die smaaksintuig beide skadelike en voordelige dinge kan waarneem, word al die basiese smake óf as afkeurend óf as aptytwekkend geklassifiseer, afhangende van die effek wat die dinge op menslike liggame het.[12] Soetheid help om energieryke voedsel te identifiseer, terwyl bitterheid dien as 'n waarskuwing teen gifstowwe.[13]

By die mens begin smaakwaarneming vervaag rondom 50-jarige ouderdom as gevolg van die verlies aan tongpapillae en 'n algemene afname in speekselproduksie.[14]

  1. Adjectival form: gustatory
  2. 2,0 2,1 What Are Taste Buds? kidshealth.org
  3. Human biology (Page 201/464) Daniel D. Chiras.
  4. Schacter, Daniel (2009).
  5. Boron, W.F., E.L. Boulpaep. 2003.
  6. Kean, Sam (Fall 2015).
  7. "How does our sense of taste work?"
  8. Human Physiology: An integrated approach 5th Edition -Silverthorn, Chapter-10, Page-354
  9. Smell – The Nose Knows washington.edu, Eric H. Chudler.
  10. Food texture: measurement and perception (page 36/311) Andrew J. Rosenthal. Springer, 1999.
  11. Food texture: measurement and perception (page 4/311) Andrew J. Rosenthal.
  12. Why do two great tastes sometimes not taste great together? scientificamerican.com.
  13. Miller, Greg (2 September 2011).
  14. Henry M Seidel; Jane W Ball; Joyce E Dains (1 Februarie 2010).

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search