Soematra

Soematra
Inheemse naam: Sumatera / Ruja
Topografiese kaart van Soematra
Topografiese kaart van Soematra
Geografie
Ligging Suidoos-Asië
Koördinate 00°00′S 102°00′O / -0.000°N 102.000°O / -0.000; 102.000
Argipel Groot Soenda-eilande

Oppervlakte 473 481 vk km
Hoogste punt Berg Kerinci 3 805 m
Administrasie
Vlag van Indonesië Indonesië
Provinsies Aceh, Bengkulu, Jambi, Lampung, Riau, Wes-Soematra, Suid-Soematra, Noord-Soematra

Hoofstad Medan
Grootste stad Medan (2 109 330)

Demografie
Bevolking 50 miljoen

Bevolkingsgroepe Acehnese, Batak, Minangkabau, Maleiers, Han-Chinese
Die wêreld se sesde grootste eiland

Soematra (Indonesies: Sumatera; Atjehs: Ruja), die wêreld se sesde grootste eiland, na Groenland, Nieu-Guinee, Borneo, Madagaskar en Baffin-eiland, beslaan 'n oppervlakte van 473 481 km² en word begrens deur die oop Indiese Oseaan in die suidweste, die Andamanse See in die noordweste, die Suid-Chinese See in die noordooste en die Javasee in die suidooste. Soematra is die tweede grootste en mees westelike van die vier Groot-Soenda-eilande asook die derde grootste eiland van die eilandnasie Indonesië. Dit is in die suidooste van die Andaman- en Nicobar-eilande, in die suidweste van die Maleise Skiereiland, in die weste van Borneo en in die noordweste van Java langs die ewenaar geleë. Die Indiese Oseaan word in die noorde deur die Straat van Malakka met die Suid-Chinese See en in die suide deur die Javastraat met die Javasee verbind. Langs Soematra se ooskus lê die eiland Bangka.

Nasa-satellietbeeld van Soematra
Kaart van Soematra

Soematra se naam is afgelei van die Sanskrit-woord Samudra (समुद्र) wat "versameling van waters, see of oseaan" beteken.[1] 'n Ou naam vir Soematra is "Swarna Dwipa" (Sanskrit vir: "eiland van goud"), waarskynlik deur die baie vroeë uitvoer van goud uit die myne in die Soematraanse hoogland.

Soematra het 'n bevolking van sowat 50 miljoen, waarvan die meeste Maleiers is, in die noordweste bly veral Acehnese of Atjehs. Hulle besig hul eie moedertale, onderskeidelik Maleis en Atjehs, maar ook die ampstaal van Indonesië, Indonesies. Al dié tale behoort tot die Maleis-Polinesiese tale. Chinees is die moedertaal van die Han-Chinese wat hulle veral in onlangse dekades op Soematra kom vestig het. Die geloofsmeerderheid in Soematra is Moslems (87,1%), gevolg deur 10,7% Christene, en minder as 2% is Boeddhiste en Hindoes.[2]

Borneo en Soematra is veral bekend vir hul reënwoude wat die enigste habitat van die orangoetang vorm. As gevolg van sterk ontbossing word hierdie groot ape ernstig bedreig.

Soematra se geologie word gekenmerk deur baie aktiewe vulkane wat dié eiland van noordwes na suidoos gevorm het. Net suidoos van Soematra is Krakatoa geleë, veral bekend vir die enorme uitbarsting in 1883. Soematra se vulkane behoort tot die Ring van Vuur wat die Stille Oseaan van Nieu-Seeland tot Chili omsirkel.

  1. (en) Macdonell, Arthur Anthony (1924). A practical Sanskrit dictionary with transliteration, accentuation, and etymological analysis. Motilal Banarsidass Publications. p. 347. ISBN 9788120820005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Mei 2016. Besoek op 16 Desember 2015.
  2. "Kewarganegaraan, Suku Bangsa, Agama, dan Bahasa Sehari-hari Penduduk Indonesia" (PDF). www.bps.go.id (in Indonesies). Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2020. Besoek op 5 Januarie 2019.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search