Spysverteringstelsel

Die spysverteringstelsel by die mens.
1. Mondholte 3. Kleintongetjie 4. Tong 6. Speekselkliere 7. Ondertong 8. Onderkaak 9. Parotisklier 11. Slukderm (oesofagus) 12. Lewer 13. Galblaas 14. Galbuis 15. Maag 16. Pankreas 17. Pankreasbuis 19. Dunderm 21. Jejenum en verder ileum 22. Blindederm 23. Dikderm 24. Dwarskolon 25. Stygende kolon 26. Sekum 27. Dalende kolon 29. Rektum 30. Anus

Die spysverteringstelsel is die orgaanstelsel van 'n liggaam waar voedselsoorte soos koolhidrate, vette en proteïene afgebreek en verteer word voordat dit deur die dermkanaal geabsorbeer kan word.

Vertering is die afbreek van voedsel tot kleiner en oplosbare voedseldeeltjies sodat dit deur selle gebruik kan word. Vertering word op twee maniere bewerkstellig: meganies en chemies.

Alle diere en die mens moet die organiese stowwe wat hulle nodig het, in die vorm van voedsel opneem. Tydens die spysverteringsprosesse word die voedsel met behulp van ensieme verteer, dit wil sê afgebreek tot sulke klein eenhede (brokstukkies) dat dit deur die liggaam opgeneem kan word.

Die spysverteringsensieme van hoër diere is in die holte (lumen) van die spysverteringskanaal werksaam (dus buite diesel), terwyl by eensellige organismes vertering in die sel self plaasvind. Alle afbraakreaksies van voedselmolekules is hidrolitiese splitsings, dit wil sê splitsing of opbreking onder invloed van water. Suikers (polisakkariede) word op hierdie manier afgebreek tot monosakkariede, proteïene (polipeptiede) tot aminosure en vette tot vetsure en gliserol.

Sellulose, 'n belangrike komponent van plantaardige voedsel, kan deur die meeste diere nie afgebreek word nie omdat hulle nie die nodige ensieme besit nie. Sekere eensellige organismes kan dit wel doen. Sulke soortgelyke mikroörganismes leef in die maag-dermkanaal van verskeie diere (onder andere herkouers en ook die mens), waar hulle die sellulose vir hulle gasheer afbreek.

Die weg wat die voedsel deur die spysverteringskanaal volg en die verloop van die verskillende afbraakreaksies is by werweldiere in prinsipe ongeveer dieselfde as by die mens. Die verskille wat wel bestaan, hang ten nouste saam met die aard van die voedsel.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search