Storm

Die rolwolk van 'n donderbui beweeg oor Enschede (Nederland)

Die term storm verwys na 'n weerverskynsel in die atmosfeer van 'n planeet, wat swaar weer met sterk winde behels. Storms op die aarde word onder meer gekenmerk deur stormwind, donder en bliksems (in die geval van 'n donderbui), swaar reën (soms ook ysreën) of stormsterkte-wind wat materie beweeg, soos byvoorbeeld 'n sneeustorm, haelstorm, sandstorm, werwelwind of tornado, waarvan die drie laasgenoemdes groot hoeveelhede sand of stof opskop en soms oor groter afstande beweeg.

Werwelwinde en tornado's is selfs in staat om swaar voorwerpe op te tel en berokken groot skade in die gebiede wat deur hulle getref word.

Gewoonlik word winde met 'n snelheid van tenminste 20,8 meter per sekonde (74,9 kilometer per uur) of 12 Beaufort in die weerkunde storms genoem. Storms met windsnelhede van tenminste 32,7 meter per sekonde (117,7 kilometer per uur) of 12 Beaufort word orkane genoem.

Storms ontstaan as gevolg van groot drukverskille in die atmosfeer, wat oor 'n relatief klein afstand optree. Hierdie verskynsel is kenmerkend vir magtige laagdrukgebiede. Stormwinde tree daarnaas ook as gevolg van die topografie van 'n bepaalde gebied op, byvoorbeeld wanneer wind in 'n nou vallei gekanaliseer word soos in die geval van die Franse Mistralwind.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search