Suezkanaal

Kaart van die Suezkanaal
Satellietbeeld van die Suezkanaal

Die Suezkanaal (Arabies: قناة السويس, Qanāt al-Suwais) is 'n kanaal van 193,3 km lank wat deur die Landengte van Suez in Egipte sny en die Middellandse See met die Rooisee verbind.[1] Die kanaal vorm die grens tussen Afrika en Asië.[2]

Reeds in die sestiende eeu is daar al gespekuleer oor die bou van die kanaal, maar dit is eers 400 jaar later voltooi toe die kanaal op 17 November 1869 geopen is. Die projek is onder die beheer van Ferdinand de Lesseps voltooi nadat bouwerk reeds in 1859 begin het. Sedertdien word die kanaal deur ongeveer 21 000 skepe per jaar gebruik. Dit duur sowat nege uur vir 'n skip om van een punt na die ander te vaar. Sedert die kanaal geopen is, het ongeveer 'n miljoen skepe die kanaal gebruik.

Die suidelike ingang na die kanaal is by Suez en die noordelike ingang is by Port Said. Die totstandkoming van die kanaal is in groot mate te danke aan die optrede van die Fransman Ferdinand de Lesseps. Hy het al die steun van die destydse Egiptiese onderkoning, Saïd, ontvang en het die uitvoering van die projek gebaseer op 'n ontwerp van A. von Negrelli. In 1956 het pres. Nasser van Egipte die kanaal genasionaliseer, waarop Franse, Engelse en Israelse soldate die gebied beset het.

Uit vergelding het pres. Nasser die kanaal van Julie 1956 tot April 1957 gesluit. Van Junie 1967 tot Junie 1975 was die kanaal weer eens gesluit weens 'n Israelse besetting van die Sinaï-gebied. As gevolg van internasionale druk het Israel egter sy troepe aan die kanaal onttrek en is dit weer oopgestel. Sedertdien is daar gewerk aan planne om die kanaal vir skepe van tot 250 000 ton bevaarbaar te maak.

Omvangryke planne om die kanaalgebied in 'n nuwe vestigingsgebied om te skep om sodoende die bevolkingsdruk op die oorbevolkte Nyldal te verlig, is ook aangepak. Reeds 20 eeue voor die Christelike jaartelling wou die Egiptiese Farao Sesostris 'n waterverbinding tussen die Nyl en die Rooi See tot stand bring. Hy het toe bevaarbare kanale tussen die Rooi See en die Bittermere en die oostelikste arm van die Nyldelta aan die Middellandse See laat grawe.

Die kanale het geleidelik toegeslik, maar is tussen 600 en 500 v.C. deur Farao Necho II en die Persiese veroweraar Darius I weer in bedryf gestel. Opeenvolgende heersers oor Egipte, die Ptolemeë, die Romeine, die Bisantyne en die Arabiere, het pogings aangewend om die kanale oop te hou. Omstreeks 775 n.C. het kalief Al Mansoer dit egter uit strategiese oorwegings laat toemaak.

Na die ontdekking van die Kaapse seeroete en die rykdomme van Asië het die gedagte aan 'n baie korter seeweg na die Verre Ooste deur die landengte van Suez herleef. Nadat Napoleon Egipte verower het, het hy die moontlikheid van 'n kanaal in 1799 ernstig laat ondersoek. Sy ingenieurs het egter tot die slotsom gekom dat die vlakverskil tussen die Rooi See en die Middellandse See te groot was vir die destydse tegnieke (hulle het 'n berekeningsfout gemaak; volgens hulle was die vlakverskil 10 m).

In 1830 het die Engelse ontdek dat die vlakverskil minimaal is (30 cm) en dat 'n kanaal gegrawe kon word. Die Egiptiese onderkoning het egter in 1833 toestemming vir die grawe van so kanaal geweier. Die Fransman Ferdinand de Lesseps (1805–1894), 'n persoonlike vriend van die nuwe onderkoning, Mohammad Saïd Pasja (1822–1863) het in 1854 egter toestemming verkry.

Met 'n konsessie vir 99 jaar (van die opening van die kanaal af) het hy die Compagnie Universelle du Canal Maritime de Suez (Suezmaatskappy) in 1858 tot stand gebring. De Lesseps het 200 miljoen Franse frank nodig gehad om die projek aan te pak. Net Franse het egter daarin belang gestel om aandele te koop en het sowat 50 % van die kapitaal gelewer. Die Engelse en Amerikaners het geen belangstelling getoon nie. Nadat Saïd egter 60 miljoen Franse frank bygedra het, kon De Lesseps die eerste sooi in 1859 by die latere Port Saïd spit.

Engeland, wat bang was vir Franse oorheersing van die Levant- en Asië-skeepvaart en self oor 'n Kaïro-Suez-spoorweg beskik het, het Saïd se opvolger, lsmaïel  (1830–1895), na Saïd se dood in 1863 beïnvloed om die werksaamhede te staak. In 1866 is die werk egter hervat en op 17 November 1869 kon die Franse keiserin, Eugénie de Montijo (1826–1920), die Suezkanaal op 'n luisterryke plegtigheid amptelik oop verklaar (Verdi het onder meer ook die opera Aïda vir die openingsplegtigheid geskryf.)

Engeland het egter diep onder die besef van die belangrikheid van die Suezkanaal gebly en het in 1875 lsmaïel se aandele oorgeneem nadat dié in 'n finansiële verknorsing beland het. In 1882, tydens ’n nasionalistiese opstand in Egipte, het Engeland die kanaalgebied beset en later ook die hele Egipte. Eers in 1945 het Engeland uit Egipte padgegee. In Julie 1956, 12 jaar voor die verstryking van die konsessie aan die Suezkanaal-maatskappy, het die Egiptiese president, Gamal Abdal Nasser (1918–1970), die maatskappy en die kanaal genasionaliseer.

Drie maande later het Israel Sinaï binnegeval en het Engelse en Franse valskermsoldate. Port Saïd en Port Foeaad beset. Uit weerwraak het Nasser die kanaal gesluit deur 'n aantal skepe daarin te laat kelder. VN-troepe het by die Britse en Franse soldate oorgeneem en in April 1957 is die kanaal weer oopgestel. Weens Israel se besetting van die Sinaï-gebied na die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 het pres. Nasser aangekondig dat die kanaal voortaan vir alle skeepsverkeer gesluit sou wees.

In 1973 het Egiptiese troepe die kanaal oorgesteek en 'n deel van die Israelse verdedigingslinie in Sinaï verower. Hulle is teruggedryf, maar onder internasionale druk (olieprysverhogings deur die Arabiese lande) moes Israel hom in 1974 tot 30 km van die kanaal af terugtrek. In Junie 1975 het pres. Sadat van Egipte die kanaal weer oopgestel.

  1. (en) Webwerf van die Suez Canal Authority Geargiveer 22 Maart 2009 op Wayback Machine
  2. (de) Suezkanaal by aegypten-magazin.de

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search