Swart Dood

Die Swart Dood.

Die Swart Dood of die Swart Pes was 'n kataklismiese gebeurtenis waarin omtrent 'n derde tot twee derdes van Europa se bevolking tussen 1348 en 1350 gesterf het. Dit was een van die ergste pandemies in die mens se geskiedenis. Dit het in die suidweste van Asië begin en in die 1340's na Europa versprei. Die totale dodetal oor die wêreld was ongeveer 75 miljoen.

Die pes het tot die 1700's ná elke generasie telkens in verskillende grade van intensiteit na Europa teruggekeer. Latere uitbrake sluit in die Italiaanse pes van 1629-1631, die Groot Pes van Londen (1665-1666), die Groot Pes van Wene (1679), die Groot Pes van Marseille in 1720–1722 en die pes in Moskou wat in 1771 ondervind is.

Die Swart Dood het 'n drastiese afname van Europa se bevolking tot gevolg gehad sowel as 'n drastiese verandering in die sosiale struktuur. Dit was 'n reuse terugslag vir die Rooms-Katolieke Kerk.

Ander name vir die siekte is builepes, bubonepes, buboniese pes, pasteurellose, rottepes of swart pes. Dié gevaarlike siekte word veroorsaak deur die bakterie Yersinia pestis wat versprei word deur vlooie, rotte (vandaar "rottepes") en Mongoolse marmotte. As mense en marmotte die siekte opdoen, swel die limfkliere op en verkleur dit swart (vandaar "swart pes/dood"). So 'n kliergeswel word 'n buil genoem (vandaar "builepes"). Die woord "buil" is 'n Germaanse woord en beteken "bult" (soos as iets swel), terwyl die Engelse "bubo" (as vertaling van "buil") afkomstig is van die Griekse "boubon" wat 'lies' of 'swelling in die lies' beteken.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search