Tafelberg

Tafelberg
Tafelberg, met Kaapstad en Tafelbaai (voor) Tafelberg, met Kaapstad en Tafelbaai (voor)
Ligging Wes-Kaap, Suid-Afrika
Hoogte 1 086 meter bo seevlak
Koördinate 33°57′S 18°25′O / 33.950°S 18.417°O / -33.950; 18.417
Eerste bestyging 1503
Eerste bestyger(s) António de Saldanha
Maklikste roete Stap
Ligging van Tafelberg op 'n kaart (Suid-Afrika)
Tafelberg
Tafelberg

Tafelberg (Engels: Table Mountain; Khoi: Huriǂoaxa of Hoerikwaggo, "Seeberg") is ’n berg van 1 km hoog in Suid-Afrika met ’n uitsig oor Kaapstad en die Kaapse Skiereiland. Dit het ’n kenmerkende plat plato, wat ’n mesa genoem word, en strek omtrent drie kilometer van punt tot punt. Die grootste deel van die berg bestaan uit 450-510 miljoen jaar oue gesteentes. Dié gesteentes beslaan ook die boonste laag van die Kaapse Plooiberge, waarvan Tafelberg deel is.[1][2] Dit is uiters harde, erosiebestande kwartssandsteen, wat die Skiereiland-formasie genoem word en die steil grys kranse vorm.

’n Kabelspoor neem besoekers van ’n kabelstasie aan die westelike berghang na die kruin. Van daar is ’n asemrowende uitsig oor Kaapstad, Tafelbaai, Leeukop, Vlaeberg en Robbeneiland in die noorde, asook die Atlantiese kuslyn in die weste en suide. Op die berg is ’n restaurant en winkels.

Die gebied om Tafelberg word al baie eeue lank bewoon. Sowat 2 000 jaar gelede het die Khoi-sprekende volke uit die noorde na die Skiereiland migreer. Voorheen is die gebied deur nomadiese !Kwi-sprekers bewoon. Omstreeks 1800 is drie blokhuise op Tafelberg gebou, en tussen 1896 en 1907 vyf damme om water aan Kaapstad te verskaf. Dié damme maak nie meer deel uit van die watervoorsiening nie.

’n Groot deel van die Kaapse Skiereiland bestaan uit verskeie soorte unieke fynbos. Die Kaapse floraryk is ’n wêrelderfenisgebied met talle plante wat inheems is en nêrens anders aangetref word nie. Altesaam 1 500 van die spesies hier kom voor in die gebied van 57 km2 wat Tafelberg en die Agterberg insluit – soveel soos al die plantspesies in die hele Verenigde Koninkryk.[3] Ná pleidooie sedert die middel 1930's vir ’n nasionale park op die Kaapse Skiereiland wat om Tafelberg gesentreer is, het oudpresident Nelson Mandela in 1998 die Skiereilandse Nasionale Park afgekondig. Dit is nou bekend as die Tafelberg Nasionale Park.

Verskeie soorte diere kom ook op die berg voor. Dit sluit in dassies, ystervarke, muishonde, slange, akkedisse, skilpaaie en ’n skaars inheemse paddaspesie, die Tafelbergse spookpadda. Roofvoëls sluit in die bedreigde witkruisarend, asook die rooiborsjakkalsvoël, dwergarend, kaalwangvalk, swerfvalk en kransvalk.[4] Voorheen het ook leeus, tiere en kwaggas hier voorgekom.

As ’n mens suid oor die stad na Tafelberg kyk, sien jy links (oos) die driehoekige Duiwelspiek (1 000 m) en regs die ronde Leeukop (669 m) en Vlaeberg (Seinheuwel). Tafelberg se plat bokant word gereeld deur wolke bedek, bekend as die "tafeldoek". Dit is stuwingswolke wat gevorm word wanneer ’n suidoostewind teen die berghange opwaai na kouer lug, waar die vog in die wind kondenseer en wolke vorm. Volgens legende word dié verskynsel toegeskryf aan ’n rookkompetisie tussen die duiwel en ’n afgetrede seerower, Van Hunks.[5]

Die berg se hoogste punt is by die Maclear-baken. ’n Berugte, gevaarlike ligging is die Carrel-lys, ’n ononderbroke afgrond nie ver van die Maclear-baken nie.

Die stad Kaapstad omring deesdae die berg; plaaslike inwoners gebruik die berg graag as ’n landmerk om deur die stad te navigeer. Van die aktiwiteite waaraan inwoners en besoekers op die berg kan deelneem, sluit honderde staproetes in, asook rotsklim, abseil en bergfietsry.

Tafelberg vanaf Leeukop gesien.
  1. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named compton
  2. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named McCarthy
  3. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named manning1
  4. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named hockey
  5. "Cape Town Info" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Oktober 2010. Besoek op 27 Maart 2009.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search