Teheran

Teheran

تهران Tehrān
Stad
Teheran is in Iran
Teheran
Teheran
Ligging in Iran
Koördinate: 35°41′46″N 51°25′23″O / 35.69611°N 51.42306°O / 35.69611; 51.42306Koördinate: 35°41′46″N 51°25′23″O / 35.69611°N 51.42306°O / 35.69611; 51.42306
LandVlag van Iran Iran
ProvinsieTeheran Provinsie
Shahrestan (distrik)Teheran
Shemiranat
StigtingVoor 9de eeu
Regering
 • BurgemeesterMohammad Ali Najafi
Oppervlak
 • Stad730 km2 (280 vk. myl)
Hoogte
1 200 m (3 900 ft)
Bevolking
 • Stad8 244 535
 • Metro
13 828 365
TydsoneUTC+3:30 (IRST)
 • SomertydUTC+4:30 (IRDT)
Skakelkodes021
Webwerftehran.ir

Teheran (Persies: تهران, Tehrān, ), die hoofstad van Iran, is in die gelyknamige provinsie in die noorde van die land geleë. Met 'n bevolking van meer as 15 miljoen in die metropolitaanse gebied is dit ook die grootste stad in die land en een van die grootste metropole ter wêreld.

Die stad, wat teen die hellings van die Elboers-bergreeks en aan die voet van die rustende vulkaan Damavand geleë is (hierdie piek op 'n hoogte van 5 670 m verrys sowat 80 km noordoos van Teheran), en in die noorde deur die hellings van die bergpiek Towchal (byna 4 000 m bo seespieël) begrens word, is eers sowat twee eeue gelede tot die hoofstad van Iran verhef. Intussen het die stad tot die land se belangrikste ekonomiese en wetenskaplike sentrum gegroei.

Die huidige stadsgebied beslaan sowat 730 km². Vanweë hul ligging temidde van berghellings is Teheran se stadsdele teen verskillende hoogtes geleë. Die suidelike stadsdele grens aan die Dasht-e Kevir-soutwoestyn en is sowat 1 000 m bo seevlak geleë, die stadsentrum ietwat hoër teen sowat 1 200 m bo seevlak en die welvarende noordelike voorstede, waar tradisioneel die meeste regeringsgeboue en ambassades geleë is, teen 1 700 m bo seevlak. Teheran het 'n klimaat met vier seisoene – warm somers, koue winters, en relatief kort lentes en najare.

Teheran – 'n metropool temidde van berge

Die meeste arm Teherani's, soos die hoofstadbewoners in Iran genoem word, is in die suidelike stadsgebied saamgetrek wat in vergelyking met die noordelike stadsdele deur 'n warmer, minder aangename klimaat gekenmerk word. Die noorde was van ouds die gewildste woongebied vir Teheran se welgesteldes.

Teheran is die administratiewe, ekonomiese, kulturele en vervoermiddelpunt van Iran wat met sy stedelike leefstyl en die groot verskeidenheid werkgeleenthede steeds meer nuwe aankomelinge lok. Sodoende het die stad van 'n beskeie nedersetting met 'n bevolking van omstreeks 15 000 in 1800 tot die middel van die 19de eeu reeds tot 'n belangrike stad met meer as 100 000 inwoners gegroei. In die 1930's het die inwonertal die kwartmiljoenkerf verbygesteek, en volgens die sensus van 1997 was dit in dié jaar al een van die wêreld se grootste metropole met meer as tien miljoen inwoners.

Hierdie ongekende proses van verstedeliking het met ekonomiese vooruitgang en motorisering van groot dele van die bevolking gepaard gegaan, maar het naas sosiale ook ernstige omgewingsvraagstukke veroorsaak. Die uitlaatgasse, wat deur nywerhede en miljoene voertuie in die atmosfeer ingestuur word, belemmer nie net die uitsig op die berge van die omgewing nie, maar lei jaarliks tot duisende sterftes.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search