Utah

The Great State of Utah
Deelstaat Utah
alt alt
Vlag van Utah Seël
Bynaam(e): The Beehive State
alt
Kaart van die Verenigde State met Utah uitgelig
Amptelike taal(e) Engels
Hoofstad Salt Lake City
Grootste stad Salt Lake City
Area  26ste in die V.S.
 - Totaal 219 887 km2
 - Wydte 435 km
 - Lengte 565 km
 - Water 7 136 km2
 - % water 3,25 %
 - Breedtegraad 37° N tot 42° N
 - Lengtegraad 109° 3′ W tot 114° 3′ W
Bevolking  34ste in die V.S.
 - Totaal 2 763 885
 - Digtheid 15,31/km2
41ste in die V.S.
Hoogte  
 - Hoogste punt Kings Peak
4 126 m
 - Gemiddeld 1 860 m
 - Laagste punt Beaver Dam Wash by Arkansas-grens
664 m
Toetrede tot die Unie  4 Januarie 1896 (45ste)
Goewerneur Gary R. Herbert (R)
Luitenant-Goewerneur Gregory S. Bell (R)
Wetgewer Utah Staatswetgewer
 - Hoërhuis Senaat
 - Laerhuis Huis van Verteenwoordigers
V.S. Senatore Mike Lee (R)
Mitt Romney (R)
Tydsone UTC-07:00 / Somertyd -6:00
Afkortings UT US-UT
Webblad www.utah.gov

Utah (Engels: State of Utah) is 'n deelstaat in die weste van die Verenigde State met 'n bevolking van 3,2 miljoen. Die hoofstad en grootste stedelike nedersetting is Salt Lake City. Na die deelstaatbewoners word in Engels as Utahns verwys.

Utah se bynaam is die Byekorfstaat (Engels: Beehive State).[1] Die byekorf as gekies as 'n simbool van harde werk, vlyt en toegewydheid en verskyn op Utah se deelstaatvlag en -seël. Industry of vlyt is ook die deelstaat se amptelike leuse, die heuningby sy amptelike insek. In 1996 is die Byekorf-sterregroep aangewys as Utah se amptelike sterregroep.[2]

In 1896 was Utah die 45ste deelstaat wat tot die Unie toegelaat is. Dit word in die noorde deur Idaho en Wyoming, in die ooste deur Colorado, in die suide deur Arizona, en in die weste deur Nevada begrens. Dit raak ook aan 'n hoek van Nieu-Meksiko, by die sogenoemde Four Corners. Utah is die 11de grootste deelstaat in terme van area, die 33ste grootste in terme van bevolking, en 10de laagste bevolkingsdigtheid van die Amerikaanse deelstate. Nogtans is dit die mees verstedelikte deelstaat waar sowat 85 persent van die totale bevolking in stedelike nedersettings saamgetrek is.

Slegs vier persent van grond in Utah is geskik vir landboudoeleindes, en dit is merendeels langs die Wasatch Front geleë waar ekonomiese en bevolkingsgroei in die metropolitaanse gebied van Salt Lake City-Provo met die verlies van landbougrond gepaard gegaan. Utah is allesbehalwe selfvoorsienend ten opsigte van voedselproduksie.

Twee tempels, met berge teen die agtergrond. 27 jaar nadat Joseph Smith, 'n veertienjarige seun uit New York, die grondlegger van een van Amerika se belangrikste utopiese Christelike bewegings geword het, en drie jaar nadat hy onder moordenaarshand gesterf het, het sy volgelinge as setlaars in 1847 in Salt Lake Valley aangekom - 'n gebied wat hulle as hul Beloofde Land beskou het en as die plek waar hul City of Zion sou ontstaan
Uitsig or die Groot Soutmeer en Salt Lake City vanuit Antelope Island
Mesa Arch, Canyonlands National Park
Green River met die Bowknot Bend-rivierkronkel, San Rafael Swell
Goosenecks State Park: Die kronkelende San Juan-rivier het diep ingesny in die pienk sandsteenlandskap van Suidwes-Utah
Grand Staircase-Escalante National Monument: Zebra Canyon met sy kenmerkende gestreepte rotswande
Maan oor Bear River, 'n paradys vir trekvoëls. Die rivier vloei deur Utah, Idaho en Wyoming en word volgens die Bear River Compact, waarmee in 1958 harmoniese samewerking bewerkstellig is, deur al drie deelstate gemeenskaplik bestuur
Die Bonneville Salt Flats. Die soutvlakte se harde soutkors maak van die streek 'n mekka vir motorsport
Four Corners Monument:
Toeriste met min tyd kan gelyktydig 'n besoek aan vier deelstate bring - en in hulle staan

Utah het sy oorsprong in die weswaartse groot trek van tussen 50 000 en 80 000 lidmate van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae oor die Groot Vlaktes tussen 1847 en 1868.[3] Pioniers van die Britse Eilande en vastelandse Europa het by hulle aangesluit. Alhoewel hierdie groot binnelandse migrasie betreklik goed gedokumenteer is, is statistieke nie volledig nie. Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae se Pioneer Database, wat deur medewerkers van die Kerk se Historiese Biblioteek begin en saamgestel is, bevat tans inligting oor meer as 61 000 pioniers en 384 pioniersgroepe wat die groot trek met ossewaens en stootkarretjies aangedurf het.[4]

Die getal Europese immigrante, wat hulle as Kerklidmate in Utah gevestig het (volgens ’n doelgerigte immigrasiebeleid waarna as die Vergadering van Sion verwys is en waarvolgens alle Heiliges in ’n gemeenskaplike staat sou vergader), word op 51 000 beraam, van wie 38 000 van die Britse Eilande afkomstig was ('n verdere 5 000 Britse immigrante het hulle reeds in die tydperk tot 1844 in Nauvoo gevestig[5]), en meer as 13 000 uit vastelandse Europa en Skandinawië.[6] Terwyl die meerderheid setlaars van Amerikaanse herkoms bekwame boere was, het die beroepe van Europese setlaars die gevorderde graad van industrialisering in die Ou Wêreld weerspieël en Utah van hoogs opgeleide mannekrag voorsien. Setlaars uit die Nuwe en Ou Wêreld het in die smeltkroes van Utah gou saamgesmelt tot 'n meer of min homogene bevolking. Nogtans is daar ook plekke soos Sanpete County, net suid van die metropolitaanse gebied van Salt Lake City geleë, wat deesdae as die Mormoonse hartland van Sentraal-Utah beskou word en waar Deens-Skandinawiese invloede steeds merkbaar is.

Die grootste aantrekkingskrag van Utah vir die vroeë pioniers was die feit dat dit destyds nie deur ander Amerikaners bewoon is nie. Onder die leierskap van Brigham Young, die opvolger van Joseph Smith Jr. as kerkhoof en profeet, het meer as 300 nedersettings in heel Utah sowel as aangrensende gebiede in Idaho, Wyoming, Nevada en Arizona ontstaan. Die name van sommige van hierdie nedersettings getuig van hul Mormoonse oorsprong; hulle is genoem na persone en plekke wat in die Boek van Mormon voorkom, soos byvoorbeeld Nephi, Lehi, Manti en Moroni, of na vroeë kerkleiers, soos Brigham City, Heber City en St. George.

Brigham Young se aspirasies vir sy volk en Kerk was aanvanklik selfs groter. Sy idee was om 'n onafhanklike Staat Deseret buite die Verenigde State te vestig wat naas die hele Utah en Nevada ook die suidweste van Wyoming, die weste van Colorado, die noordweste van Nieu-Meksiko, die noorde van Arizona en Suid-Kalifornië insluitende San Diego sou insluit. Hierdie doelwit was onrealisties hoog gestel, en uiteindelik is 'n kompromis met politici in Washington, D.C. aangegaan waarvolgens in 1850 die Utah-territorium geskep is. Die naam Deseret is laat vaar, en die gebied is ná een van die plaaslike Eerste Nasies, die Ute, Utah vernoem. Hierdie territorium het naas Utah binne sy huidige grense ook die grootste deel van Nevada, Wes-Colorado en Suidwes-Wyoming ingesluit. Eers in 1868 is sy omvang verminder tot die gebied van die huidige Utah.[7]

Omtrent sestig persent van Utah se bevolking is vandag Kerklede (waarby rofweg vyftig persent van die inwoners as praktiserende aanhangers gereken word). Die bevolkingsamestelling weerspieël nog die merendeels Noord-Europese afkoms van 19de eeuse Kerklidmate, maar word sedert die laat 20ste eeu deur groter etniese diversiteit gekenmerk. Swart Amerikaners en boorlinge van Hawaii is van die talle etniese groepe wat aan die feesvierings van Pioneer Day deelneem. Meer as 130 tale word tans in Utah gebesig.

Die Kerk se wêreldhoofkwartier word in Salt Lake City gehuis. Die hoë persentasie lede van een geloof maak van Utah die enigste deelstaat in die Verenigde State waar 'n meerderheid van die bevolking tot dieselfde godsdienstige denominasie behoort. Al blyk die pad na gelykheid soos elders in die VSA lank te wees, erken die deelstaat selfdegeslaghuwelike en geniet LGBT-burgers uitgebreide regte.

  1. State Symbols USA: The Beehive State - Utah State Nickname. Besoek op 27 Julie 2020
  2. State Symbols USA: Beehive Cluster. Besoek op 27 Julie 2020
  3. Melvin L. Bashore, H. Dennis Tolley and the BYU Pioneer Mortality Team: Mortality on the Mormon Trail, 1847–1868. In: BYU Studies Quarterly, Journal 53:4, bl. 110
  4. The Church of Jesus Christ of Latter-day Saints: Church History - About the Pioneer Database. Besoek op 28 Julie 2020
  5. Richard N. Ostling and Joan K. Ostling: Mormon America. The Power and the Promise. First edition. New York, NY: Harper One/Harper Collins 2007, bl. 5
  6. Leonard J. Arrington: Great Basin Kingdom. Cambridge, MA: Harvard University Press 1958, bl. 99
  7. Allan Kent Powell: The Utah Guide. Third edition. Golden, Colorado: Fulcrum Publishing 2003, bl. ix

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search