Vlag van die Volksrepubliek China

Vlag van die Volksrepubliek China
Vlag van die Volksrepubliek China
Vlag van die Volksrepubliek China
Bynaam (zh) Wǔ Xīng Hóng Qí[1]
(af) Vyfster-rooivlag
Gebruik Burgerlike- en staatsvlag en vaandel Burgerlike en staatsvlag en -vaandel
Verhouding 2:3
Goedgekeur 27 September 1949[2]
Ontwerp ’n Enkele rooi baan met ’n groot goue ster binne ’n boog van vier kleiner goue sterre in die skildhoek.
Ontwerp deur Zeng Liansong
Vlag van die Volksrepubliek China
Name (taalvariante)
Tradisionele Chinees   中华人民共和国国旗
Vereenvoudigde Chinees   中華人民共和國國旗
Pinyin Zhōnghuá Rénmín Gònghéguó guóqí
Wade-Giles Chunghua Jenmin Kunghokuo kuoch'i
Betekenis Staatsvlag van die Volksrepubliek China

Die nasionale vlag van die Volksrepubliek China is op 27 September 1949 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n enkele rooi baan met ’n groot goue vyfpuntige ster binne ’n boog van vier goue vyfpuntige sterre in die skildhoek.

Die rooi staan vir die Kommunistiese Rewolusie; die vyf sterre en hul verhouding stel die eenheid van die Chinese mense onder die leierskap van die Kommunistiese Party van China (KPC) voor. Soms word na die vlag as die “Vyfster-rooivlag” (五星红旗/五星紅旗, pinyin: wǔ xīng hóng qí) verwys.[3]

Die vlag is deur Zeng Liansong, ’n burger van Wenzhou, Zhejiang, ontwerp. Hy het dit ontwerp in reaksie op ’n omsendbrief wat in Julie 1949, kort nadat hulle ná die Chinese Burgeroorlog die mag oorgeneem het, deur die Voorbereidende Komitee van die Nuwe Politieke Raadgewende Konferensie (新政治协商会议筹备会, Xīn zhèngzhì xiéshāng huìyì chóubèi huì) uitgestuur is. Tydens die ontwerpkompetisie is 2 992 (of 3 012) inskrywings ontvang en Zeng se ontwerp is in ’n poel van 38 finaliste geplaas. Ná verskeie vergaderings en effense veranderinge is Zeng se ontwerp as die nasionale vlag gekies. Op 1 Oktober 1949 is die vlag vir die eerste keer deur die Volksbevrydingsleër aan ’n paal wat oor Beijing se Tiananmen-plein uitkyk, gehys tydens ’n seremonie wat die stigting van die Volksrepubliek bekend gemaak het.

Ander vlae wat in die Volksrepubliek China gebruik word, toon ’n rooi agtergrond wat die rewolusie simboliseer, saam met ander simbole. Die vlag van die Volksbevrydingsleër gebruik die goue ster met die Chinese karakters 8–1 (vir 1 Augustus, die stigtingsdag van die leër). Die vlag van die Kommunistiese Party van China vervang al die sterre met die party se kenteken. Weens beperkings deur die regering mag stede en provinsies nie hul eie vlae hê nie; die enigste sub-nasionale vlae wat bestaan, is dié van die Spesiale Administratiewe Streke Hongkong en Macau. Ten spyte hiervan het minstens twee stede hul eie vlae aanvaar nadat die wet goedgekeur is. Die stede Kaifeng en Shangrao het hul eie vlae in Maart 2006 en Maart 2009 onderskeidelik goedgekeur. Dit impliseer dat die wet óf herroep is óf nie toegepas word nie. Die stad Suzhou het sy vlag reeds in Desember 1995 aanvaar, nog voor die wet se goedkeuring. Harbin het van Mei 1997 tot Januarie 1998 sy eie vlag gebruik, terwyl Nanjing van Desember 1986 tot Desember 1997 sy eie vlag gehad het.

  1. (zh) 马全洲; 周凯军 (1 April 2009). Stories About the National Flag, Emblem and Anthem. Beijing, China: People's Liberation Army Publishing House. p. 1. ISBN 978-7-5065-5729-0.
  2. (en) "China". Flags of the World. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Julie 2019. Besoek op 11 Maart 2017.
  3. (en) 马全洲; 周凯军 (1 April 2009). Stories About the National Flag, Emblem and Anthem. Beijing, China: People's Liberation Army Publishing House. p. 1. ISBN 978-7-5065-5729-0.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search