Warmlugballon

'n Warmlugballon safari in Maasai Mara

Die warmlugballon is die eerste suksesvolle passasiersdraende lugvaarttegnologie wat ontwikkel is en dateer terug tot die uitvinding daarvan deur die Montgolfier broers in Annonay, Frankryk in 1783. Die eerste vlug wat mense saamgedra het is op 21 November 1783 in Parys deur Jean-François Pilâtre de Rozier en François Laurent d'Arlandes onderneem.

Warmlugballonne wat deur die lug aangedryf kan word eerder as om bloot deur die wind rondgestoot te word, staan bekend as 'n lugskip en meer spesifiek 'n termiese lugskip.

'n Warmlugballon bestaan uit 'n sak wat die vermoë het om die verhitte lug binne te hou. Daaronder word 'n gondola of mandjie gehang (in sommige ballonne wat baie hoog vlieg word 'n lugdigte kapsule daaronder gehang) wat die passasiers en die hittebron/-opwekker dra. Die verhitte lig in die ballon maak dat die lug dryf aangesien dit 'n laer digtheid het as die relatief kouer lug buite die ballon. Anders as gasballonne hoef dit nie onder geseël te word nie aangesien die stygende warm lug slegs druk op die boonste deel van die ballon uitoefen. Vandag se sportballonne word oor die algemeen uit Nylon vervaardig en die mond van die ballon (naby aan die brander) word van 'n brandbestande materiaal soos NOMEX ('n Produk van DuPont) vervaardig.

Onlangs het mense begin om ballonne in allerhande buitengewone vorme te vervaardig, soos worsbroodjies, vuurpyle of die vorm van kommersiële produkte.

'n Warmlugballon in vlug

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search