Wenera-ruimteprogram

Landings van Sowjet-tuie op Venus

Wenera (Russies: Венера; "Venus") is die naam van ’n reeks ruimtetuie wat die Sowjetunie tussen 1961 en 1984 gelanseer het om data van die planeet Venus in te samel. Nes verskeie ander verkenningstuie van dié land is latere tuie twee-twee gelanseer. Tien van die Wenera-verkenningstuie het suksesvol op Venus geland en data oor die planeet se oppervlak na die aarde gestuur. Nog 13 tuie het data oor Venus se atmosfeer teruggestuur.

Onder die tuie was die eerste een wat die atmosfeer van ’n ander planeet binnegedring het (Wenera 4 op 18 Oktober 1967), om ’n sagte landing op ’n ander planeet uit te voer (Wenera 7 op 15 Desember 1970), om beelde van die oppervlak terug te stuur (Wenera 9 op 8 Junie 1975) en om hoëresolusie-radarbeelde van Venus te neem (Wenera 15 op 2 Junie 1983). Die reeks was dus in sy geheel baie suksesvol. Ongelukkig heers uiterste toestande op Venus se oppervlak en het die tuie net tussen 23 minute en twee uur gewerk.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search