William, Prins van Wallis

William, Prins van Wallis

Volle naam William Arthur Philip Louis
Eggenote Catherine, Prinses van Wallis
Titels Hertog van Cornwall
Hertog van Rothesay
Prins van Wallis
Huis Windsor
Vader Charles III van die Verenigde Koninkryk
Moeder Diana, Prinses van Wallis
Gebore 21 Junie 1982 (1982-06-21)
Paddington, Westminster
Kinders Prins George
Prinses Charlotte
Prins Louis

William, Prins van Wallis[1][2] KG KT PC ADC(P) (volle naam: William Arthur Philip Louis; gebore 21 Junie 1982 in Paddington, Westminster), is die oudste seun van koning Charles III en wyle prinses Diana, wat in 1997 oorlede is. Hy is die regmatige erfgenaam van die Britse troon.

William is in Londen gebore en het skoolgegaan aan Wetherby, Ludgrove en Eton-kollege. Hy het 'n deel van sy brugjaar in Belize en Chili deurgebring voordat hy 'n meestersgraad in geografie aan die Universiteit van Sint Andrews behaal het. Hy het daarna opleiding aan die militêre akademie Sandhurst ontvang voordat hy in die Blues and Royals diens gedoen het. Hy het in April 2008 aan die lugmagkollege Cranwell gegradueer en vroeg in 2009 by die Britse lugmag se Soek-en-reddingsmag aangesluit. Van Julie 2015 af was hy twee jaar lank 'n voltydse vlieënier in die Oos-Agliese Lugambulans.

Die prins voer amptelike pligte namens die koning uit.[3] Hy is beskermheer van meer as 30 welsyn- en militêre organisasies, met sy welsynwerk wat sentreer om geestesgesondheid, bewaring en noodwerkers. In Desember 2014 het hy die "United for Wildlife"-inisiatief gestig, wat daarop gemik is om onwettige wildhandel wêreldwyd te verminder. In April 2016 het die Cambridges en prins Harry die bewusmakingsveldtog "Heads Together" vir geestesgesondheid gestig om mense aan te spoor om oor hulle geestesgesondheidsprobleme te praat.

In 2011 is William die Hertog van Cambridge gemaak voor sy troue met Catherine Middleton. Hy het die Hertog van Cornwall en van Rothesay geword nadat sy pa, koning Charles III, die troon op 8 September 2022 bestyg het. Die volgende dag is hy die Prins van Wallis en Graaf van Chester gemaak, titels wat gebruik word deur die regmatige erfgenaam van 'n regerende monarg, en Catherine het die Prinses van Wallis geword.[4] Die egpaar het drie kinders: prins George, prinses Charlotte en prins Louis.

  1. Hughes, David (8 September 2022). "Will Prince William become Prince of Wales? How royal titles have changed after the death of the Queen". i. Londen. Besoek op 8 September 2022.{{cite news}}: AS1-onderhoud: url-status (link)
  2. Elston, Laura (8 September 2022). "How the royal family's titles have now changed after the death of the Queen". The Independent. Londen. Besoek op 8 September 2022.{{cite news}}: AS1-onderhoud: url-status (link)
  3. "The Duke of Cambridge". The Royal Family. 5 Februarie 2016. Besoek op 12 Desember 2020.
  4. "King Charles names William and Kate the Prince and Princess of Wales". Reuters. 9 September 2022.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search