William Herschel

William Herschel
Gebore
Friedrich Wilhelm Herschel

15 November 1738
Hannover, Keurvorstendom Hannover (Heilige Romeinse Ryk)
Sterf25 Augustus 1822
NasionaliteitDuits, later Brits
BeroepSterrekundige en komponis
Bekend virdie ontdekking van die planeet Uranus, twee van sy mane, Titania en Oberon, twee mane van Saturnus, Mimas en Enkelados, die infrarooistrale en vir sy 24 gekomponeerde simfonieë

Sir Frederick William Herschel[1] (Duits: Friedrich Wilhelm Herschel; 15 November 1738  – 25 Augustus 1822) was ’n Britse sterrekundige, hoewel in Duitsland gebore, tegniese kenner en komponis. Hy is in Hannover, Duitsland, gebore en was nes sy pa in die militêre orkes van Hannover. Op 19 het hy na Groot-Brittanje geïmmigreer. Behalwe vir sterrekunde is hy ook bekend vir die 24 simfonieë wat hy gekomponeer het.

In 1774 het hy met behulp van 'n selfgemaakte teleskoop met 'n sistematiese ondersoek van die sterrehemel begin. Dit het onder meer gelei tot die ontdekking van die planeet Uranus, die poolkappe van Mars en twee van Saturnus se mane.

Voorts het hy ook talle newelvlekke, sterrehope en dubbelsterre ontdek. Herschel het afgelei dat die son deur die hemelruim beweeg en aanvaar dat alle sterre geleë is in ʼn stelsel wat die vorm van 'n afgeplatte lens het. Frederick William (oorspronklik Friedrich Wilhelm) Herschel is op 15 November 1738 in Hannover gebore. Sy vader was 'n musikant en aangesien William musiekaanleg getoon het, het hy op 14-jarige leeftyd lid geword van 'n militêre kapel.

In 1757 het hy hom in Engeland gevestig, eers as musiekkopieerder, daarna as dirigent en toe as orrelis in Bath (1766). In sy vrye tyd het hy in die natuurwetenskappe gestudeer, onder meer in die wiskunde en die sterrekunde, terwyl hy met 'n baie eenvoudige gehuurde teleskoop sy eerste waarnemings van die sterre gedoen het. Die teleskoop was ontoereikend en hy het besluit om self een te bou.

Danksy Herschel se buitengewone energie en deursettingsvermoë het hy teleskoopspieëls bekom wat, soos dit later geblyk het, die van Greenwich se sterrewag oortref het. Toe sy eerste teleskoop in 1744 voltooi is, het Herschel se loopbaan as (amateur-) sterrekundige begin. Herschel het hom dit ten doel gestel om die hele sterrehemel stelselmatig te bestudeer.

Op 13 Maart 1781 het hy in die sterrebeeld van die Tweeling 'n voorwerp ontdek wat 'n paar nagte later van posisie verander het. Herschel het gemeen dit is 'n komeet wat hy ontdek het en hy het dit bekend gemaak. Later het dit geblyk ʼn planeet te wees wat buite die baan van Saturnus beweeg. Die ontdekking van die planeet, vandag bekend as Uranus, het Herschel onmiddellik beroemd gemaak. Die Engelse koning, George III, het Herschel tot koninklike sterrekundige benoem met 'n jaargeld wat hom in staat gestel het om hom voltyds aan die sterrekunde te wy. Saam met sy suster Carolina Lucretia Herschel (1750- 1848) het hy na Datchet verhuis en later (in 1786) na Slough.

Carolina het in 1771 na Engeland gekom om as Herschel se helper op te tree; eers in sy musiekloopbaan en daarna met sy sterrekundige werk. Haar belangstelling in die sterrekunde het so toegneem dat sy self waarnemings gedoen en 7 komete ontdek het. In Datchet en Slough het Herschel voortdurend teleskoopspieëls geslyp, nie alleen vir eie gebruik nie, maar ook om te verkoop. Sowat 400 spieëls het sy werkplaas verlaat, wat 'n belangrike bron van inkomste was.

Sy grootste teleskoop was 12 meter lank en met 'n spieël van 1,45 min deursnee. In 1788 is Herschel met die welgestelde weduwee Mary Pitt (née Baldwin) getroud. Uit die huwelik is 'n seun, John Frederick William gebore wat later die werk van sy vader sou voortsit. In 1782 het Herschel lid van die Royal Society geword en in 1821 die eerste voorsitter van die pasgestigte Royal Astronomical Society. Herschel is op 25 Augustus 1822 in Slough oorlede.

  1. Caroline Herschel's autobiographies (M. Hoskin red., 2003) bl. 13

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search