Rugby

Die term “rugby” verwys hier na rugbyunie of “Rugby Union” soos wat die gebruik in Suid-Afrika is. Vir Rugby League, sien gerus daar, en vir die dorp, sien Rugby, Warwickshire.
’n Tipiese toneel tydens ’n rugbywedstryd
Piktogram wat rugby aandui

Rugby, soms ook rugbyunie of vyftienrugby genoem, is ’n volkontakbal- en spansport, wat in die eerste helfte van die 19de eeu in Engeland ontstaan het. Dit is genoem na sy ontstaanplek, die Rugby-skool in die dorp Rugby. Dit is saam met Rugby League een van twee hoofvariante in die rugbyfamilie. ’n Wedstryd word uitgespeel tussen twee spanne met 15 spelers elk, wat op ’n reghoekige veld probeer om in 80 minute meer punte as hul opponent aan te teken. Spelers speel met ’n eiervormige bal wat hulle in hulle hande of arms dra en hulle mag die bal slegs agtertoe of sylangs oor die veld na mekaar aangee of dit dan vorentoe skop om in die doelgebied punte aan te teken. Die opponerende span poog om die baldraer se vordering te stuit deur hom te duik of fisiek met die liggaam te keer. Wanneer die baldraer geduik is, moet hy die bal los en vind daar ’n stryd (losgemaal of ’n losskrum) plaas om balbesit.

In 1845 het studente by die Rugby-skool die eerste stel reëls opgestel. Ander belangrike ontwikkelinge in die rugbysport se geskiedenis was in 1895 die afkeur van Die Voetbalvereniging se reëls en in 1895 die afstigting van Rugby League. In die verlede was rugby ’n suiwer amateursport, maar in 1995 is al die beperkinge rakende die spelers se betalings opgehef, waardeur die professionele tydperk op die hoogste vlak ingelui is. Wêreldrugby (tot in 2014 die Internasionale Rugbyraad, IRR) is in 1886 as die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR) gestig en publiseer ook die reëls van die spel. Vanuit Engeland het rugby oor ’n groot deel van die wêreld versprei. Dit word veral op die Britse Eilande, in Frankryk, Oseanië, Suid-Afrika, Argentinië, Noord-Amerika en Japan gespeel. Terwyl die Britte dié sport veral in die lande van die Britse Ryk gevestig het, is die vastelandse Europa en groot dele van Afrika veral deur Frankryk beïnvloed. In lande soos Engeland, Georgië, Madagaskar, Namibië, Nieu-Seeland, Papoea-Nieu-Guinee, Suid-Afrika en Wallis word die een of ander rugbyvariant as ’n nasionale sport beskou. In die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Samoa, Tonga en Wallis is rugby die hoofsport.[1] In lande van die Britse Statebond met rugby as ’n tradisionele sport vir die wintermaande soos Australië, Engeland, Ierland, Namibië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis, dien krieket as ’n tradisionele sport vir die somermaande.

Die eerste internasionale wedstryd is in 1871 op Raeburn Place in Edinburg tussen Skotland en Engeland beslis. Die rugbywêreldbekertoernooi, wat in 1987 vir die eerste keer aangebied is, word al om die vier jaar beslis en is van die gewildste sportkompetisies wêreldwyd. Die Sesnasies-toernooi (Noordelike Halfrond) en Die Rugbykampioenskap (Suidelike Halfrond) is ander bekende internasionale toernooie wat jaarliks beslis word. Van die vernaamste nasionale toernooie is die Premierskap in Engeland, die Top 14 in Frankryk, die Mitre 10-beker in Nieu-Seeland, die Japan Rugby League One en die Curriebeker in Suid-Afrika. Belangrike transnasionale klubtoernooie sluit in die Verenigde Rugbykampioenskap met spanne uit Ierland, Italië, Skotland, Suid-Afrika en Wallis, asook Superrugby in Oseanië. Rugbywedstryde is al tydens internasionale sporttoernooie soos die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys, die Olimpiese Somerspele 1908 in Londen, die Olimpiese Somerspele 1920 in Antwerpen en die Olimpiese Somerspele 1924 in Parys beslis. Sewesrugby is in 1998 by die program van die Statebondspele opgeneem en vorm sedertdien deel van dié toernooi. Sewesrugby behoort ook sedert die Olimpiese Somerspele 2016 in Rio de Janeiro tot die Olimpiese sportsoorte en is ook tydens die Olimpiese Somerspele 2020 in Tokio aangebied.

  1. (en) "Rugby History in Fiji". Teivovo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 November 2007. Besoek op 14 November 2007.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search