Tabak

Tabak kan ook saamgepers word in blokke en dan weer in vlokkies gekerf word.
'n Historiese droogkamer in Myrtleford, Victoria, Australië.

Tabak verwys na die méér as 70 plantspesies in die genus Nicotiana van die familie Solanaceae (nagskadu's), sowel as produkte wat van gedroogde tabakblare vervaardig word, soos sigare en sigarette, snuif, pyptabak, pruimtabak en gegeurde shisha. 'n Verdere nut van tabak is in plant bio-ingenieurswese, en chemiese komponente van tabak word in sommige insekdoders en tradisionele medisyne gebruik.[1]

Die belangrikste kommersiële spesie, N. tabacum, se oorsprong is blybaar in tropiese Amerika, soos meeste nicotiana plante. Dit word egter al so lank verbou deur die mens dat die wilde spesie nie meer bekend is nie. N. rustica, 'n spesie wat vinnig-brandende blare produseer, is oorspronklik in Virginië, VSA gekweek, maar word nou hoofsaaklik in Turkye, Indië en Rusland verbou.

Die verslawende alkaloïede nikotien word algemeen aanvaar as die mees karakteristieke bestanddeel van tabak, maar die skadelike effekte van tabakverbruik kan die gevolg wees van letterlik duisende verskillende komponente wat in die rook vrygestel word, insluitend polisikliese aromatiese koolwaterstowwe (soos bensopireen), formaldehied, kadmium, nikkel, arseen, tabak-spesifieke nitrosamiene (TSNA), fenole, en vele ander.[2] Tabak bevat ook beta-karbolien alkaloïede wat monoamienoksidase-remmers insluit.[3]

Die metode van tabakverbouing is soortgelyk aan dié van ander landbougewasse. Saadjies word in laaie of beddings gesaai om aanvalle deur insekte te voorkom, en later uitgeplant in die landerye.

Tabak is 'n eenjarige gewas, wat gewoonlik meganies of per hand geoes word. Ná dit geoes is, word dit geberg om te kuur, deur dit óf op te hang, saam te bondel óf in groot stapels te pak met buisventilasie om die hitte kans te gee om te ontsnap uit die hoop. Kuur verleen tyd aan die stadige oksidasieproses en afbraak van karotenoïede. Dit het die gevolg dat die landbouproduk die eienskappe aanneem van tabak wat 'n "sagte" rookervaring verskaf.

Vervolgens word die tabak verpak in baie verskillende vorme vir verbruik, soos rook, pruim, snuif, ensovoorts. Meeste tabakprodukte word verantwoordelik gehou vir longkanker en ander siektes geassosieer met rookinaseming.

  1. "tobacco :: Major Uses - Kids Encyclopedia | Children's Homework Help | Kids Online Dictionary | Britannica". Student.britannica.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 April 2009. Besoek op 9 November 2013.
  2. Robert N. Proctor The history of the discovery of the cigarette-lung cancer link: evidentiary traditions, corporate denial, global toll, Tobacco Control, Tobacco Control 2012;21:87e91. doi:10.1136/tobaccocontrol-2011-050338
  3. USA (25 Maart 2013). "Human monoamine oxidase is inhibi... [Biochem Biophys Res Commun. 2005] - PubMed - NCBI" (in Engels). Ncbi.nlm.nih.gov. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Oktober 2019. Besoek op 3 Oktober 2013.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search