Wol

'n Skaap se wol word geskeer.
Geklassifiseerde kort- en langhaarwol.
Verskillende kleure verwerkte wol.

Wol is die produk wat verkry word wanneer gewoonlik skape, of Angorabokke se huidbedekking (hare) afgeskeer is. Dit word skoongemaak en verder verwerk tot 'n materiaal wat vir klere, komberse en ander uitrusting vir die mens se gemak gebruik word. Dit is saam met katoen en linne waarskynlik een van die natuurlikste stowwe wat aan 'n persoon gedra kan word.

Van die positiewe eienskappe wat wolprodukte besit, is dat dit nie veel rek of krimp nie, dit is warm in die winter en koel in die somer. Dit kan maklik gekleur word en kan versigtig gewas word.

Wol maak 'n groot deel uit van die inkomste vir skaapboere, aangesien alle skape wol dra, of die dier nou geslag word later of nie. Wol bevat ook ander voordelige natuurlike stowwe, bv. wolvet en lanolien (hidriese wolvet), wat in die kosmetiese bedryf aangewend word as bevogtigings- en smeermiddel vir die vel, veral in die winter.

Die Babiloniërs het reeds in 4 000 v.C. wolmateriaal geweef. Vandag is Australië, Nieu-Seeland, Rusland, Suid-Afrika, Argentinië, Uruguay, Turkye, die VSA en Groot-Brittanje die vernaamste wolproduserende lande. Wol is een van Suid-Afrika se belangrikste landbou-uitvoerprodukte en is ook wêreldbekend vir die hoë gehalte.

Merinowol vorm 80% van die totale skeersel en meer as 80% van die hele opbrengs het 'n spintelling van 60 en hoër, vergeleke met Australië met net meer as 60% en Nieu-Seeland se sowat 5%. Die vernaamste produksiegebiede is die Karoo, Oos-Kaap, Vrystaat en die Gautengse Hoëveld.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search