Hugenoot

Die hugenotekruis.

Die Hugenote was Protestante in Frankryk, of wat uit Frankryk gevlug het, gedurende die 16de en 17de eeue. Die Hugenote was Calviniste en het dus besware gehad teen Katolieke sienings en gebruike. Die aantal Hugenote het aansienlik toegeneem tussen 1555 en 1562, hoofsaaklik adellikes en stadsbewoners. Teen 1562 was daar 'n geskatte twee miljoen Hugenote, en was ongeveer die helfte van Frankryk onder Hugenote beheer.

Die herkoms van die woord Hugenoot is onseker, maar is waarskynlik ontleen aan die Frans huguenot wat afkomstig is van die Geneefse eyguenots, bondgenote teen die hertog van Savoye, van die Switserse Duits Eidgnosse(n), eedgenote, bondgenote wat vanaf die 14de eeu die algemene aanduiding vir inwoners van die Switserse konfederasie was. Die variant huguenot is waarskynlik beïnvloed deur die naam van een van die leiers van die opstand teen die hertog van Savoye, Hugues de Besançon uit Genève. Die meeste Switsers wat in opstand gekom het was voorstanders van die Reformasie en die term is aanvanklik deur die katolieke as 'n skelwoord gebruik. Franse protestante het die skelnaam as erenaam begin gebruik. Veral tydens die bewind van die konings Frans II (1559–1560) en Karel IX (1560–1574) het dit groot politieke betekenis verwerf.[1]

  1. Etymologisch Woordenboek van het Nederlands, besoek op 26 Desember 2007

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search