Esties

Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Estlanders.
Estnies
eesti keel 
Uitspraak: [ˈeːsti ˈkeːl]
Gepraat in: Vlag van Estland Estland
Vlag van Letland Letland
Vlag van Rusland Rusland (Pskof-oblast Petseri distrik) 
Gebied: Noord-Europa
Totale sprekers: ca. 1,1 miljoen[1][2]
Taalfamilie: Oeraals
 Fins-Oegries
  Fins-Permies
   Fins-Wolgaïes
    Fins-Samies
     Oosseefins[3]
      Estnies 
Skrifstelsel: Latynse alfabet (Estniese variant
Amptelike status
Amptelike taal in: Flag of Europe Europese Unie
Vlag van Estland Estland
Gereguleer deur: Instituut van die Estniese Taal / Eesti Keele Instituut (semi-amptelike)
Taalkodes
ISO 639-1: et
ISO 639-2: est
ISO 639-3: est 
Verspreiding van Estnies

Esties (eesti keel [ˈeːsti ˈkeːl] ) is die amptelike taal van die republiek Estland. Die taal, wat ook Estnies, Ests, of Estlands genoem word, het ongeveer 1 miljoen sprekers. Daarmee is dit op twee na (ná Yslands en Maltees) die kleinste taal in Europa wat op alle vlakke (in wetgewing, regspraak, die wetenskap en letterkunde) gebruik word. Die eerste Estniese boek het in 1535 verskyn.

Estnies behoort tot die Fins-Oegriese tale, en binne die familie tot die Oosseefinse tale. Tot dié groep tale, wat rondom die Finse Golf gepraat word, behoort ook Fins, 'n taal wat die meeste Estlanders sonder veel moeite kan verstaan. Omgekeerd geld dit egter minder: benewens die verwantskap tussen die tale speel dit ook 'n rol dat die Estlanders vertroud is met Fins, byvoorbeeld omdat hulle steeds Finse televisie kan ontvang en omdat Estland druk besoek word deur Finse toeriste.

Estnies grammatika gepubliseer in Reval deur Heinrich Stahl in 1637

Estnies is nie verwant aan Lets of Litaus nie en ewemin aan Russies. Afrikaans is in der waarheid as Indo-Europese taal nader aan die drie tale as Estnies.

Estnies gebruik die Latynse alfabet, aangevul deur die klinkertekens ä, ö, ü en õ. Die laaste teken staan vir 'n tipies Estniese klinker wat gevorm word deur die tong te plaas asof 'n o uitgespreek word en die lippe daarby te trek. As beginletters kom b, d en g slegs in woorde voor wat uit vreemde tale ontleen is. Sowel klinkers as medeklinkers kan kort, lank en ekstra lank wees. In Estniese spelling word grotendeels slegs die verskil tussen kort en lank weergegee en wel deur die letter dubbel te skryf: sada 'honderd' vs. saada 'om te kry' en kana 'hoender' vs. kanna 'dra!'.

Estnies is in sy gebruikswêreld deur alle omringende tale beïnvloed. Daar is Oudgermaanse, Baltiese en Slawiese leenwoorde uit die tyd toe die Oosseefinse familie nog een taal vorm (voor die begin van ons jaartelling), byvoorbeeld onderskeidelik die woorde rand (strand, Germaans), sild (brug, Balties) en aken (venster, Slawies). Jonger is die groot aantal leenwoorde uit Nedersaksies, die taal van die Hanse. Die taal lyk baie soos Nederlands (meer as na Hoog-Duits), en aangesien die Estniese spelreëls op sommige punte ooreenkom met die Nederlandse, is daar 'n hele aantal woorde wat in Nederlands en ook in Afrikaans en in Estnies identies is: klooster, kaart, kroon, kraan.

Ander wyk 'n bietjie af, maar is tog heel herkenbaar: hoov (hof), triikima (stryk), pott (pot) en pann (pan). Die aantal Russiese leenwoorde uit die vorige eeu is redelik beperk. Die invloed van Engels is tans wel groot. Estnies het minder as Fins die neiging om eie, puristiese woorde te gebruik vir nuwe sake (telefon, instituut, maar wel arvuti vir rekenaar instede van die Engelse computer). Dit herinner aan die verskil tussen Afrikaans en Nederlands waar Afrikaans ook meer geneig is om nuwe woorde te gebruik terwyl Nederlands gereeld Engelse woorde aanneem.

  1. "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Estonian" (in Engels). Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2019. Besoek op 2 April 2016.
  2. "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Estonian, Standard" (in Engels). Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Junie 2020. Besoek op 2 April 2016.
  3. (en) Jacek Fisiak, Raymond Hickey, Stanisław Puppel, Language History and Linguistic Modelling: A Festschrift for Jacek Fisiak on His 60th Birthday, Contributor Jacek Fisiak, Uitgegee deur Walter de Gruyter, bl. 831, 1997, ISBN 3-11-014504-9, 9783110145045

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search