Revolusiejaar 1848

Gevegte in Berlyn op 19 Maart 1848

Die Revolusiejaar 1848, wat deur sommige die Lente van die Volke[1] of die Lente van Nasies genoem word, was 'n reeks politieke opstande regoor Europa wat in 1848 begin het. Dit bly die mees wydverspreide revolusionêre golf in die geskiedenis van Europa tot nou toe. 'n Revolusie het in Januarie in Sisilië en in Februarie in Frankryk uitgebreek en daarna oor Europa en na ander dele van die wêreld versprei. Meer as 50 lande is deur opstande geraak.

As doel het die opstande gehad die wegdoen met monargistiese stelsels, die instel van 'n liberale sisteem en 'n liberale grondwet en die skep van onafhanklike nasiestate, vry van vreemde heersers, in lyn met die romantiese nasionalisme van die tyd.[2]

Van die hoof bydraende faktore vir die revolusies was wydverspreide ontevredenheid met politieke leierskap, eise vir meer deelname aan regering en demokrasie, eise vir vryheid van die pers, ander eise wat die werkersklas vir ekonomiese regte gestel het, die oplewing van nasionalisme, die hergroepering van gevestigde regeringsmagte,[3] en die Europese Aartappelskaarste, wat massa-hongersnood, migrasie en burgerlike onrus veroorsaak het.[4]

'n Kenmerk van hierdie revolusionêre bewegings was dat interne koördinasie en samewerking grotendeels by hulle ontbreek het. Die beweging was van korte duur en talle van die revolusies is bloedig onderdruk - tienduisende mense is gedood, en vele meer in ballingskap gedwing. Baie van die maatreëls wat deur die revolusionêres afgedwing is, is later deur die aristokratiese en konserwatiewe elite teruggedraai. Nietemin het die opstande 'n groot invloed uitgeoefen op die periode wat daarop gevolg het.[5] Heersers moes voortaan min of meer rekening hou met die liberale en nationalistiese gevoelens van die burgery wat al hoe meer invloedryk geword het.

Van die belangrikste blywende hervormings was die afskaffing van lyfeienskap in Oostenryk en Hongarye, die einde van absolute monargie in Denemarke en die instelling van verteenwoordigende demokrasie in Nederland. Die rewolusies het hulle grootste invloed gehad in Frankryk, die state van die Duitse Bond wat later die Duitse Ryk sou uitmaak, die Oostenrykse Ryk, Italië en Nederland.[6]

  1. Merriman, John (1996). A history of Modern Europe: From the Renaissance to the present. New York: W.W. Norton and Company. p. 715.
  2. Nel, P.G. (red.) (1979). Die kultuurontplooiing van die Afrikaner. Pretoria, Suid-Afrika: HAUM. p. 1.
  3. Evans, R.J.W. and Hartmut Pogge von Strandmann (eds.) (2000). The Revolutions in Europe 1848–1849. Oxford, U.K.: Oxford University Press. pp. v, 4.
  4. Vanhaute, Eric, Richard Paping and Ó Gráda Cormac (August 2006). The European subsistence crisis of 1845–1850: a comparative perspective. XIV International Economic History Congress of the International Economic History Association, Session 123. Helsinki. Geargiveer op die Internet Archive op 17 April 2017. Geraadpleeg, 3 November 2022.
  5. Greer, Thomas, H. (1987). A brief history of the Western World. San Diego: Harcourt Brace Jovanovich Publishers. p. 438.
  6. Merriman, John (1996). A history of Modern Europe: From the Renaissance to the present. New York: W.W. Norton and Company. pp. 748-749.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search