Ruimtewedloop

Die begin en einde van die Ruimtewedloop:
Spoetnik 1 (heel bo) en die Apollo-Sojoes-
toetsprojek (bo)
.

Die Ruimtewedloop was die wedywering tussen die Verenigde State van Amerika en die Sowjetunie om die verowering van die ruimte. Dit het rofweg van 1957 tot 1975 geduur en het pogings van albei lande behels om satelliete die ruimte in te stuur en uiteindelik bemande ruimtetuie op die maan te laat land en veilig na die aarde terug te bring.

Dit was ’n spesifieke tydperk in die geskiedenis en sluit nie daaropvolgende pogings van dié of ander lande in om die ruimte te verken nie. Die wedloop was beide ideologies en tegnologies van aard en een van die simbole van die magstryd tussen die twee lande in die Koue Oorlog: sukses in die ruimte sou ’n teken wees van militêre krag.

Die ruimtewedloop het begin met die lansering van die Sowjet-satelliet Spoetnik 1 op 4 Oktober 1957 en het geëindig met die gemeenskaplike Apollo-Sojoes-toetsprojek met bemande ruimtevlugte op 24 Julie 1975, wat ’n simbool geword het van détente tussen die VSA en USSR.

’n Uitvloeisel van die ruimtewedloop was dat meer geld bestee is aan opvoeding en navorsing, en dit het weer wetenskaplike en tegnologiese suksesse tot gevolg gehad. ’n Onwillekeurige gevolg was ’n groter bewuswording van die belang van omgewingsbewaring; danksy kleurfoto's wat op ruimtevlugte geneem is, kon mense vir die eerste keer sien hoe die Aarde werklik lyk: ’n kwesbare blou paneet omring deur die gitswart ruimte.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search